Glo in die liefde
Die De Neckers sprankel behoorlik van geluk, soos die foto’s getuig. “Ons het 'n maat gevind om saam mee oud te word en werk sonder ophou daaraan om ons huwelik rooskleurig te maak.”
BARBERTON – Soms moet ‘n vrou baie paddas soen voor sy haar prins kry. Boonop is die vrouehart is ‘n baie broos en gekompliseerde ding en wanneer ‘n vrou, ongeag van hoeveel keer haar hart gebreek word, nog kan glo in liefde is dit die grootste voorreg ooit.
So ‘n vrou is die pasgetroude Dalene de Necker (nee Schoeman), en Barberton Times het besluit om hierdie storie te doen vir ‘n paar redes. Eerstens is hierdie een van die weinig internet-liefdes wat ‘n mooi einde gehad het, en dit reg hier in Barberton, en tweedens is dit ‘n positiewe begin tot 2014 vir almal wat nog glo aan die wonder van liefde.
Gedurende Augustus 2010 het Dalene uit totale verveeldheid haar profiel op een van die vele beskikbare maatsoekwebtuiste geplaas. Die profiel het ‘n foto en kort beskrywing van haarself ingesluit.
“Niemand daar het regtig my aandag getrek nie en ‘n mens kom gou agter wie is kansvatters en wie is opreg,” vertel die stralende bruid.
Na verloop van ‘n relatiewe kort tydjie, het haar oog ‘n man gevang wat in Iraq werksaam was. Sy naam was Michael de Necker en die twee het eitlik dadelik soos die spreekwoordelike skoen-en-sool by mekaar aanklank gevind.
“Voor ek en Michael begin kommunikeer het, het ek gedink dis beter dat hy so ver is, want dit sal nie veeleisend wees nie en nogtans was dit iemand om lekker mee te gesels,” vertel sy.
Dié gesels was so lekker dat Skype later die enigste oplossing was, want sien wil ‘n mens mekaar darem sien, al is dit nou via ‘n rekenaar skerm. Boodskappe op Facebook, e-posse en Skype het heen en weer deur die net gevlieg en daar is ‘n behoorlike vryery aan die gang gesit. Byna soos ons voorvaders se briewe aan ons voormoeders met hulp van die Landbouweekblad!
Op daardie stadium was Dalene in Middelburg woonagtig. Beide het die skoot hoog deur gehad teen die tyd wat hulle vir die eerste maal, op 21 Desember ontmoet het. Dit was tydens Michael se verlof en die tweetjies het by Swadini gaan vakansie hou en mekaar sommer baie beter leer ken.
Volgens Dalene was die afskeid was maar ‘n tranerige affêre en met Michael se aankoms in Iraq het hy net daar en dan besluit, die verlange is darem maar nie die moeite werd nie en ‘n man het sy wyfie nodig. Michael is ‘n man van sy woord en net soos hy belowe het, het hy op 11 Mei 2011 na Suid-Afrika teruggekeer.
Michael, wat voorheen in Barberton gebly het, is weer aangestel in sy vorige pos by Consort Myn aangestel en saam met Dalene het hulle hulself in die dorp gevestig.
Die De Neckers is op Dalene se verjaardag, Saterdag 14 Desember, deur Michael se broer, Pieter de Necker, in die huwelik bevestig.
Die troue is tuis gehou en Dalene vertel: “Dit was baie informeel. Ons het vir ‘n uur lank mooi gelyk en daarna almal lekker by die swembad en lapa gekuier.”
Die De Neckers sprankel behoorlik van geluk, soos die foto’s getuig. “Ons het ‘n maat gevind om saam mee oud te word en werk sonder ophou daaraan om ons huwelik rooskleurig te maak.”
Vir Dalene is hierdie die spreekwoordelike “third time lucky” en sy glo dit het baie te doen met die manier waarop Michael haar behandel.
“Hy pas my hart op en het respek vir my as vrou. Dit maak dat ek nie anders kan as om hom lief te hê en die res van my lewe met hom te deel nie.”
Van almal by Barberton Times – Mag julle huweliksbootjie op rustige waters vaar.
