NELSPRUIT – Te midde van kritiek oor die wiskunde en wetenskap-prestasie van 2013 se matrieks, is daar wel ‘n ligpunt volgens die Vereniging vir Afrikaanse Wiskundeonderwysers (V.A.W.). Volgens die organisasie is die resultate van matrieks wat in Afrikaanse wiskunde presteer het van ‘n hoë standaard.
“Ons voorlopige navorsing toon dat die Afrikaanse wiskundeleerlinge, net soos met die internasionale TIMSS-assessering vroeër verlede jaar, tydens die matriekeindeksamen ver bo die nasionale gemiddelde presteer het,” sê dr. Gerrit Stolts, dosent aan die Universiteit van Pretoria.
In ’n ontleding deur dr. Stolts van voormalige model C-skole met Afrikaans as onderrigmedium se prestasie tydens die 2003 TIMSS-toetse, het Afrikaanse deelnemers wêreldwyd tiende beste presteer. Dít te midde van die feit dat Suid-Afrika as geheel 46ste geëindig het.
“Hoewel die statistiek van die departement van onderwys toon dat net 40,5% van matrieks in 2013 ‘n persentasie van meer as 40% vir wiskunde kon behaal, is Afrikaanse wiskundeonderrig baie sterk,” sê dr. Danie Brink, die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. “Verskeie studies bevestig dat kinders se punte dramaties verbeter indien die onderwyser se kennis oor die vak verbeter.”
Die V.A.W. bied voortgesette ondersteuning deur middel van kongresse, kort kursusse, gereelde nuusbriewe, wiskundige hulpmiddels en ‘n eksklusiewe webwerf wat regdeur die jaar aan Afrikaanse wiskundeonderwysers beskikbaar is om te verseker dat skoliere beter onderrig kan ontvang.
Die V.A.W. sal in 2014 ‘n positiewe impak op meer as 180 000 Afrikaanse leerlinge se wiskunde-onderrig hê deurdat meer as 1 200 Afrikaanse wiskundeonderwysers aan V.A.W.-aktiwiteite gaan deelneem. Sodoende word verseker dat Afrikaanse kinders steeds toegang het tot wiskunde-onderrig van wêreldgehalte.
