Brand verwoes gesinshuis in Nelspruit
'n Huisgesin van vier se huis in Granietstraat het Woensdagmiddag groot skade gely toe die kombuis aan die brand geslaan het. Niemand is egter in die voorval beseer nie.
NELSPRUIT – Die eienaar van dié woning, mnr. Adrian Perumal het vir twee dae nie krag gehad nie. Die toevoer is Woensdagoggend herstel en Perumal vermoed dat ‘n skommeldrankie-toestel die oorsaak van die brand was. “Niemand was die oggend by die huis nie. Die toestel was nie by die kragpunt afgeskakel nie en het moontlik uitgebrand.”
Sy ma het sy seun net voor 17:00 afgelaai en rook deur die vensters opgemerk, maar nie besef dat die kombuis aan die brand was nie. “Ons het twee weke gelede ‘n splinternuwe yskas kontant gekoop,” sug Perumal.
Mnr. Marwaan Miller van die Mbombela Brandweer het om 17:41 die noodroep ontvang. “Ons het om 17:51 op die toneel aangekom en dit het ons 10 minute geneem om die brand te blus. Dit lyk of dit in die hoek van die kombuis ontstaan het as gevolg van verf wat teen die muur afgedop het.”

