ElectionsNews

Bejaardes sukkel met registrasie

Die registrasie-geleentheid is deur die raadslid vir Wyk 15 gereël sodat bejaardes, wat nie by die OVK-kantore kon uitkom nie, ‘n kans kon kry om te registreer.

NELSPRUIT – ‘n Groep bejaardes van Macadamia Village het Vrydag vir meer as twee ure tevergeefs vir beamptes van die Onafhanklike Verkiesingskomitee gewag. Hierdie versuim om kiesers te registreer kom te midde die groot “Ek stem SA”-mediaveldtog wat deur die OVK van stapel gestuur is en President Jacob Zuma se opdrag om soveel moontlik kiesers te registreer.

Die geleentheid is deur die raadslid vir Wyk 15, me Felicity Läng, gereël sodat bejaardes, wat nie by die OVK-kantore kon uitkom nie, ‘n kans kon kry om te registreer.

Die bejaardes se teleurstelling was egter groot toe beamptes nooit opdaag nie en hul later meegedeel word dat die geleentheid gekanselleer is.

Läng was ook ontnugter en in die verleentheid gestel deur hul afwesigheid. Sy het drie weke gelede met die OVK gereël en hulle het die afspraak vir 31 Januarie om 09:00 gemaak. Toe sy op 30 Januarie die kantore bel om seker te maak dat die afspraak nog staan, is sy meegedeel dat alles gereël is. “Ek het hulle twee keer geskakel en drie eposse gestuur,” sê Läng.

Die volgende oggend, toe sy probeer uitvind waar die OVK-beamptes is, is sy meegedeel dat sy deur die speaker se kantoor moet werk om reëlings te tref. “Hoekom het hulle dit dan nie voor die tyd vir my gesê nie?” wonder Läng. “Hulle verskoning is dat ‘n tydelike werker die telefoon beman het en nie geweet het van die nuwe instruksies nie.”

Sy sê dat net die riglyne gevolg het wat sy gewoonlik volg en voel dat dit swak is om nuwe reëlings in te stel slegs ‘n week voor die laaste kans vir registrasie. Sy is baie teleurgesteld is dat die proses so gepotjie is, aangesien ander organisasies ook op so ‘n wyse wou registreer.

Die personeel van Macadamia het die afgelope paar weke baie aansporingswerk gedoen sodat die bejaardes hul ID-boekies bring om te registreer en hoop dat hierdie kansellasie hulle nie sal verhinder om te registreer wanneer daar weer ‘n geleentheid is nie.

Die bejaardes, wat begin brei het of saam gesit en gesels het, was baie verontwaardig en moeg gewag toe hul meegedeel is dat die registrasiegeleentheid gekanselleer is.

Op die vraag waarom hulle so graag wil stem was “want ons moet ons land red”, “ons kan nie toelaat dat die land net agteruitgaan nie” en “ons wil die land regruk” van die mengelmoes-menings wat gelug is.

Läng is tans besig om die nuwe proses te volg om ‘n nuwe datum te kry waarop die inwoners van Macadamia kan registreer.

Die OVK se kantoor kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.

Volgens hul webwerf, kan kiesers wat nie by hul stemlokaal kan uitkom op die verkiesingsdag nie, aansoek doen vir ‘n spesiale stemgeleentheid. Hierdie groep sluit kiesers wat verswak, swanger of gestrem is, beamptes wat op daardie dag elders moet diens doen of mense wat op vakansie is gedurende daardie tyd in. Verswaktes of gestremdes sal by hul huise deur stembeamptes toegelaat word om op ‘n spesifieke datum te stem. Om te kwalifiseer moet jy egter in die stemdistrik waarin jou huis val, geregistreer wees.

Kiesers wat sulke reëlings vir registrasie of stem wil tref, moet hul munisipale OVK-kantoor skakel. Besonderhede is op die OVK se webwerf, www.elections.org.za, beskikbaar.

Nelspruit se OVK-kantoor is in die municipale gebou, 1 Nel Straat en kan by 013-759-2317 geskakel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button