Local newsNewsNewsSchools

nuwe skoolhoof het groot planne vir die jaar

Juf. Sjhanet Grobler het in Januarie as die nuwe hoof by Desiland Kleuterskool begin. Sommer met die intrapslag het sy 'n nuwe prentjie begin skilder deur die skool se logo te verander.

MALALANE – Juf. Sjhanet Grobler het in Januarie as die nuwe hoof by Desiland Kleuterskool begin. Sommer met die intrapslag het sy ‘n nuwe prentjie begin skilder deur die skool se logo te verander. Ouers het deur middel van ‘n kompetisie aan die kreatiewe proses deelgeneem.

Sjhanet het in die Oos-Vrystaat grootgeword en was in Bethlehem en Lindley op skool. Na matriek het sy by Pukke haar BPrimEd-graad verwerf, waar sy in kleuterjare opvoeding gespesialiseer het. Sy het ook ‘n honneursgraad in opvoedkundige sielkunde.

Alhoewel sy die Vrystaat verlaat het, het sy nie haar skoolliefde agtergelaat nie en het tydens haar honneursjaar met Derik getrou. Die paartjie is vir twee jaar Amerika toe. In die dorpie Beatrice, Nebraska kon Sjhanet nie as onderwyser werk nie, en het gedurende daardie tyd as au pair gewerk.

Die Groblers is terug Potchefstroom toe waar hulle ‘n dogtertjie ryker geword het en Sjhanet vir twee jaar by Asjassies Kleuterskool gewerk het. Daarna is hulle na Bloemfontein toe waar hulle ‘n seuntjie gehad het en waar sy ‘n tydelike pos by Fauna Laerskool gehad het.

‘n Jaar later het hulle die geleentheid gekry om na die warmer deel van die land toe te verhuis toe Derik na Hectorspruit verplaas is. Pas aangeland in die Onderberg het ‘n pos by Riverview Prep School vakant geraak en Sjhanet het vir drie jaar vir die Engelse gr. 00’s skoolgehou. In die tyd het sy nog ‘n seuntjie gehad.

Die Grobler-kindertjies het nie na dieselfde skool as hul mamma gegaan nie en is by Desiland ingeskryf. Sjhanet was as ouer baie by die skool betrokke en was ook op die bestuurspan. So het sy bewus geraak van die hoofpos by Desiland en het onmiddelik aansoek doen.

Vandat Sjhanet by Desiland werksaam is, is daar allerhande planne gemaak om die skool te vernuwe en op te kikker. Sy wil graag die ouers meer betrek en wil ‘n behoorlike bewusmakingsveldtog loods, sodat hulle kan besef hoe belangrik die eerste vyf jaar se ontwikkeling is, en dat speel uiters belangrik is.

Met behulp van die arbeidsterapeut, sal daar op ‘n gereelde grondslag kommunikasie wees, waar die ouers raad sal kry oor hoe hulle die kleuters kan help. Sjhanet wil ook ouer-ondersteuningsgroepies saamstel waar ouers mekaar kan ondersteun.

Hulle gaan ‘n geleentheid hê om direk betrokke te wees by die opknap en verfraaiing van die skoolterrein. Dit sal op 15 Februarie plaasvind.

Sjhanet beplan om ‘n resepteboekie saam te stel, met die kleuters se mammas se resepte. Hierdie sal dan verkoop word om fondse in te samel.

Ons sien uit daarna om te sien watter verskil sy by Desiland gaan maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button