WITRIVIER – Dit verg deeglike organisasie om ‘n interlaer-atletiekbyeenkoms te reël.
Net so, kan so ‘n spoggeleentheid nie teen geen koste aangebied word nie.
Daarom het Laerskool Witrivier Dinsdagaand die borge wat bygedra het, bedank om die interlaer wat die skool volgende Vrydag aanbied moontlik te maak.
Om alles te kroon vier die skool ook hierdie jaar sy 110de bestaansjaar.
Mnr. Frannie van der Riet, skoolhoof, het die borge vir hul finansiële bydraes bedank.
Hy het in sy bedankingstoespraak gesê dat sport tot nasiebou kan bydra en dat dit ook aan kinders se menswees bou. “Terwyl die afrigters en toeskouers op die paviljoen voorspellings maak, het die kinders pret op die baan. Hulle maak en bou vriendskappe tussen skole op die baan.”
NTT Toyota, Mpumalanga Copiers, Gumtreez en Absa was die grootste borge om die dag, waartydens atlete van agt laerskole teen mekaar sal meeding, moontlik te maak.
Mnr. Martin Nienaber, die atletiekorganiseerder en ook dié van die byeenkoms, het beaam dat dit harde werk is om so ‘n byeenkoms te reël, maar dat almal met afwagting na die byeenkoms uitsien.
