DA maak skoonskip in tussenverkiesing
LYDENBURG – Die DA het Dinsdag skoonskip in die tussenverkiesing gemaak. Die party het die ANC met 540 stemme teenoor 75 geklop om te verseker dat Wyk 12 steeds ‘n DA-wyk bly. Die tussenverkiesing het plaasgevind na me. Sonja Boshoff genomineer is om Mpumalanga in die Nationale Raad van Provinsies te verteenwoordig. Die gewonne stryd …

LYDENBURG – Die DA het Dinsdag skoonskip in die tussenverkiesing gemaak.
Die party het die ANC met 540 stemme teenoor 75 geklop om te verseker dat Wyk 12 steeds ‘n DA-wyk bly.
Die tussenverkiesing het plaasgevind na me. Sonja Boshoff genomineer is om Mpumalanga in die Nationale Raad van Provinsies te verteenwoordig. Die gewonne stryd het ook meegebring dat mnr. Nicko Janse van Vuuren as raadslid van dié wyk verkies is.
Die DA se provinsiale leier, mnr. Anthony Benadie, het aan die Steelburger/Lydneburg Nuus gesê dat hulle baie trotsop die DA se oorwinning is. “Ook ‘n hartlike dank aan die kiesers van Wyk 12 wat die dag uitgekom het om vir Janse van Vuuren te ondersteun.
Ons is baie dankbaar dat die inwoners dit steeds goedgedink het om hulle wyk DA te hou om ons die grootte van die opposisie in die plaaslike raad te behou soos wat dit is, en dat hulle steeds hulle vertroue in die DA plaas.
Ons is vol vertroue dat Nicko en die DA sal voortgaan om die belange van die inwoners te verteenwoordig, veral ten midde van die swak dienslewering en die herhaaldelike uitdagings wat die munisipaliteit in die gesig staar.”
Benadie het bygevoeg dat die party van hulle kant af hul sal bearbei om die inwoners en Janse van Vuuren effektief by te staan. “Ons is hoofsaaklik net baie dankbaar dat die kiesers die moeite gedoen het om aan die tussenverkiesing deel te neem en ons herinner almal dan ook om 7 Mei weer te stem.”
Janse van Vuuren het ook al die inwoners wat die moeite gedoen het om hulle kruisie te trek, bedank. “Ek waardeer dit regtig. Dit beteken vir my baie om te sien hoe die mense uitgekom al was dit net vir ‘n wyksraadsverkiesing. Dis duidelik dat mense ‘n behoefte het om verandering te sien. Ons is opgewonde daaroor en ons is opgewonde oor waarheen dit gaan.
Ons glo dat in die toekoms ons nie net hierdie wyk gaan wen nie, maar voorts ook die hele stadsraad sodat daadwerklike verskille gemaak kan word. Ek gaan op my hardste baklei en ons gaan sekermaak dat daar na die inwoners se behoeftes omgesien sal word.”
