LYDENBURG – Thaba Chweu Munisipaliteit het onlangs na die onlangse onwettige afsluiting van krag in die sentrale dorpsgebied, ‘n groot terugslag beleef.
Platinum Premises Investments het verlede Woensdag ‘n hooggeregshof-interdik teen die stadsraad teen dié onwettige handeling beding.
Die uitspraak van die hofbevel, wat voor regter Justice Webster belê is, behels dat Thaba Chweu geïnterdik en verbied word om elektrisiteitstoevoer by die perseel te staak of af te sny, sonder om die nodige wetlike stappe te neem en terwyl die maatskappy die regte rekening vir elektrisiteitstoevoer behoorlik vereffen.
Thaba Chweu word ook beveel om die koste van die interdik ten volle te betaal. Volgens die maatskappy se prokureur, mnr. Hans Broekman moet die totale bedrag verliese nog bereken word: “Maar dit kan substansieel wees.
Lydenburg Hyundai kon op Saterdag 8 Februarie geen besigheid doen nie en die motorhandelaar, moes onder andere, weens sekuriteitsredes, sluit. Op Maandag 10 Februarie kon geen elektroniese transaksies gefinaliseer word nie, en kon motors ook nie gediens word nie. Daar was ontevrede kliënte wat die besigheid se naam geskaad het.”
Broekman het aan die koerant gesê dat die interdik onbepaald geldig is vir solank as wat die rekening betaal is. “Die probleem is egter dat die rekening inderdaad in krediet is as gevolg van betalings wat nie geallokeer is nie en dat die applikant nieteenstaande herhaaldelike pogings, nie daarin slaag om dit reggestel te kry nie.
Die stadsraad het, benewens deur die kragtoevoer op Maandagmiddag 10 Februarie na ontvangs van die hofaansoek te herstel, geen poging aangewend om met die applikant te kommunikeer nie. Die kosterekening sal getakseer word sodra die advokaat, balju en korrespondent in Pretoria se rekeninge onvang is. Na taksasie sal die geld van die stadsraad verhaal moet word.”
Broekman het ook bevestig dat indien daar aan die bevel gehoor gegee word, behoort dit die onwettige staking van kragtoevoer te voorkom. “Indien daar nie aan die bevel gehoor gegee word nie, stel die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Godfrey Nkosi, hom bloot aan minagting van ‘n hofbevel.”
Die direkteur van Platinum Premises Investments, mnr. Eugene Gouws, het aan die koerant gese dat dit nie die enigste dagvaarding aan TCM gaan wees nie.
“As gevolg van sy rassistiese uitsprake het ons besluit om nie te onderhandel nie. Ons moet vir die mense bewys dat ons nie met hom hoef opgeskeep te sit nie. Die onwettige diskonneksie van my kompleks by die Sterkspruit-plotte het ook in Desember plaasgevind.”
Die maatskappy het ook R1 miljoen aan die stadsraad vir die opgradering van die Rooidraai-substasie voorgeskiet. Die ontwikkeling van die nuwe inkopiesentrum, die Panorama Mall, word ook deur TCM gekniehalter.
“Ons gaan die stadsraad vir R80 000 dagvaar om hulle te dwing om die wateraansluiting te doen. ‘n Verdere R1,7 miljoen gaan ook vir naamskending teen Nkosi gemaak word en ‘n R1 miljoen- eis vir die perseel van Hyundai. Kom ons gooi die rassis met hofaansoeke en hou die premier, mnr. David Mabuza ook aanspreeklik vir die aanstel van Nkosi,” het Gouws aan die koerant vertel.
Die munisipaliteit het teen druktyd glad nie op enige navrae gereageer nie.
