Hard newsLocal newsMunicipalNewsNews

Waterkrisis ruk nou handuit

Verskeie uitbreidings in die dorp sukkel al vir die afgelope maand met watertoevoer.

LYDENBURG – Verskeie uitbreidings in die dorp sukkel al vir die afgelope maand met watertoevoer.

Inwoners van die Heads, Sterkspruit, Boulders en nou ook die visserye sit al vir die afgelope vyf dae met hulle hande in hulle hare oor krane wat tydig en ontydig leegloop.

Volgens mnr. John Mohlala, voorsitter van die National Elite Health and Workers Union (Nehawu) van die visserye ondervind hulle baie probleme met watertoevoer. “Ons het geen water nie. Dit is ‘n groot probleem, veral ten opsigte van drinkwater en vir toiletgebruik. Ons is nou genoodsaak om water uit die rivier vir drinkwater te gebruik.

Ja ons kan siek word daarvan, maar wie gaan omgee? Die water in die akwarium van die visserye moet ook vervang word. Die visse in die tenks kan vrek indien dit nie gedoen word nie. Dit kan derduidende rande se skade beteken.”

Mohlala verduidelik dat dié situasie nou belaglik word. “Niemand gee om nie, ons is net die soldiers en moet maar sien kom klaar.”

Hy is nie die enigste een wat oor die tekort gal braak nie. Me. Tanya Maree van Spring & General wat in die Heads bly is net so rasend oor die situasie. “Vir die afgelope twee weke het ons geen water in die aand nie. Dis ‘n gemors. Ek is briesend. My dogter het probeer uitgevind wat aangaan en aan haar is daar gesê dat ‘n waterpomp gebreek het.

Die stadsraad het egter nie aangedui wanneer die pomp herstel gaan word nie. My kinders se skoolklere moet gewas word. Ek moet waterkanne van die werk af huis toe neem sodat ek ten minste water tuis het. Ek kan nog sonder krag regkom, maar nie sonder water nie.”

VF+ nasionale federale raadslid van Mpumalanga, mnr. Frik Rousseau, meen dat mense hom al sedert 5 Februarie daagliks oor die probleem kontak. “Ek ontvang talle klagtes op ‘n daaglikse basis. Ek het die saak met Thaba Chweu Munisipaliteit opgeneem. Mohlala het my ook gekontak oor die situasie by die visserye en ek het ondersoek ingestel.

Na wat ek verneem is daar vier filters by waterwese. Een van hulle se kleppe het glo gebreek. Daar word dus nie genoegsame water deur die stelsel deurgelaat nie. Daar kom genoeg water van die dam af, maar as gevolg van die gebreekte klep kry verskeie huishoudings nie water nie.”

Daar blyk egter verskeie oorsake en redes vir die tekort te wees. Volgens me. Louise Botha van Twee Riviere se behuisingsafdeling het sy met iemand by die munisipaliteit oor die situasie gepraat. “Ek is ingelig dat dit ‘n elektriese probleem by die pompe is. Hulle kan ons egter nie ‘n tyd of dag gee wanneer die toevoer herstel gaan word nie.

Ek kry vreeslik baie oproepe van mense hieroor. Al wat ek vir hulle kan sê is dat hulle maar vir eers water in kanne moet aanhou.”

Verskeie navrae is aan die munisipaliteit gerig. Die koerant het per hand vrae by die kommunikasiedepartment van TCM vrae afgelewer. Die koerant wou weet presies wat die oorsaak van die probleem is, wanneer toevoer weer herstel gaan word en hoe daar voorkomend opgetree gaan word om te verseker dat huishoudings se krane nie weer leegloop nie.

Daar is klem gelê daarop dat TCM telkens antwoorde ontduik en daar is benadruk dat antwoorde aan die publiek verskuldig is.

Die vrae is, soos gewoonlik, teen druktyd nie deur die munisipaliteit beantwoord nie. Dit is steeds onseker hoe lank die probleem gaan voortduur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button