Geen hoop vir dierekinders
Chester vertel dat aannemings vreeslik afgeneem het die laaste ruk. “Inteendeel mense kom gooi net bloot hulle diere oor ons hekke. Die honde is in die meeste gevalle so uitgeteer en maer. Ek kan regtig nie meer nie. As Lydenburg my nie kan help nie, kan ek ook nie meer help nie. Ek het nou tot op ‘n punt gekom.”

LYDENBURG – Kos, water, ‘n warm kombers en jou liefde is al wat hulle vra, ander net om uit ‘n koue ysterhok te kom.
Verskeie honde en katte gaan aan die einde van dié maand uitgesit moet word wanneer Lydenburg Animal Protection Services and Rescue (Lapsar) moontlik finaal hulle deure sluit .
Volgens me Gerda Chester, eienaar van Lapsar gaan dié skut vir honde en katte toemaak tensy iemand bereid is om die veilige hawe vir diere oor te neem.
“Diere wat nou in die hokke is gaan noodgedwonge uitgesit moet word tensy iemand bereid is om die skuiling by my oor te neem vir R2000. Die perseel en al die hokke is ingesluit in die prys. Die diere is in elkgeval baie meer werd as dit.”
Volgens Chester is sy al vir die afgelope tien jaar in die bedryf. “Ek kan doodeenvoudig nie meer nie. Ek is allergies vir honde- en kathare en my bors trek telkens toe as ek by die hokke kom.”
Chester vertel dat aannemings vreeslik afgeneem het die laaste ruk. “Inteendeel mense kom gooi net bloot hulle diere oor ons hekke. Die honde is in die meeste gevalle so uitgeteer en maer. Ek kan regtig nie meer nie. As Lydenburg my nie kan help nie, kan ek ook nie meer help nie. Ek het nou tot op ‘n punt gekom.”
Om ‘n liefdevolle troeteldier aan te neem gaan jou net tussen R100 en R200 kos. Die honde wat tans by die skuiling is sluit in ‘n Labrador, Yorkshire terrier, twee Schottish Terriers, poedels en verskeie Jack Russels en Fox terrier kruisings. Daar is ook ‘n verskeidenheid spelerige klein katjies.
Chester se dat sy dié skuiling begin het omdat sy ‘n groot voorliefde vir diere het. “As gevolg van mediese redes kan ek nie meer die skut bedryf nie.”
Indien enige iemand belangstel om Lapsar oor te neem of om een van die vele honde en katte ‘n permanente huis te bied, kan Chester geskakel word by 082-041-6165.
Indien Lapsar wel hulle deure permanent sluit beteken dit dat die dorp voorts sonder enige dierebeskermings-diens sal moet funksioneer.














