Tekort aan polisie in nedersetting
Volgens die Witrivier Gemeenskapspolisieforum (GPF) raak die Msholozi-informele nedersetting nou te groot vir die plaaslike polisie om te hanteer.
Volgens die Witrivier Gemeenskapspolisieforum (GPF) raak die Msholozi-informele nedersetting nou te groot vir die plaaslike polisie om te hanteer.
Die lede van die forum het verlede week hul kommer uitgespreek oor die invloed wat die vermeerdering van van die inwoners op die polisie se beperkte hulpbronne en misdaad in die dorp het.
Dit is tydens die forum se maandvergadering op 11 Maart geopper. Mnr. Ryan Winters, voorsitter van die GPF, het gesê hulle is saam met die polisie besorg hieroor.
“Misdaad is oor die algemeen besig om in die dorp te styg,” het Winters gesê. Msholozi is ‘n onwettige nedersetting. Die plakkers daar bou al ‘n geruime tyd netjiese huise op die lappie aarde langs Phumlani, wat eintlik die nasionale departement van openbare werke se eiendom is. Die area was vir ‘n pad geoormerk maar dié planne is laat vaar, omdat die nedersetting al te groot geword het om mense te kan skuif. Mbombela Munisipaliteit voorsien inwoners glo van waterkanne weens menslikheidsredes.
Winters het verduidelik dat baie mense werkloos is en al verbind is met heelwat misdade in Witrivier. “Dit het beslis ‘n invloed op ‘n verskeidenheid misdade in die dorp. Daar is ook baie gevalle soos verkragting, aanranding en diefstal in Msholozi self, miskien as gevolg van die onwettige drinkplekke daar. Die Witrivier-polisiestasie is verantwoordelik vir die polisiëring, maar hul hulpbronne hou nie tred met die groei van die nedersetting nie.”
Winters het verduidelik dat die vergadering met die gemeenskap die eerste stap was om die probleem aan te spreek en dat hulle beplan om dit met die nasionale kommissaris van polisie op te neem.
Kol. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoord-voerder, het egter verduidelik dat die kriminele sake in Witriver waarby inwoners van Msholozi betrokke is, min is.
“Volgens die stasie- bevelvoerder daar het hulle genoeg hulpbronne om die dorp en Msholozi te beheer. Die meeste boosdoeners in die area kom egter van ander areas as Witrivier se omgewing af.”
Hlathi het verder verduidelik dat polisiestasies nie self vir hulpbronne verantwoordelik is nie. “Dit is die verantwoordelikheid van die provinsiale bestuur. Ek kan nie verder kommentaar lewer voor die korrekte kanale om klagtes aan te spreek gevolg is nie. Die Witrivier GPF moet dit met die provinsiale forum opneem, waarna hy dit aan die provinsiale kommissaris moet kommunikeer.”
Hlathi het bygevoeg dat die dorp se polisie egter onder omstandighede baie goed vaar. Die forum het dit beaam en die polisie veral vir hul suksesse in eiendomsverwante misdaad geprys.
