NELSPRUIT – Hierdie week het Hoërskool Bergvlam sy nuwe adjunkhoof verwelkom. Mnr. Org van den Berg is ‘n nuwe inwoner van die Laeveld.
Alhoewel hy in Carolina grootgeword het, het hy die afgelope 25 jaar in Polokwane, Limpopo by Hoërskool Tom Naudé saam met sy vrou, Meryl skoolgehou. Sy werk tans as ‘n vakkundige by King’s College in Witrivier. “Sy moes maar saam met my hiernatoe kom,” het Van den Berg geskerts.
Hy het vertel dat hulle albei baie opgewonde is. Hy sluit nou by ‘n nuwe bestuurspan aan wat me. Annemarie Kleynhans, wat verlede jaar as hoof aangestel is, en mnr. Jacques Krüger, wat ook as adjunk aangestel is, insluit.
“Ek het die skool nie goed geken toe ek op die fakture afkom nie, maar ek het van die begin af ‘n goeie gevoel gehad. Selfs toe ek vir die onderhoud was, het ek gevoel dis ‘n plek waar ek hoort.”
Sedert hy die leerders Maandag ontmoet het, is hy nog meer beïndruk. “Hier is karakter by die skool. Hier is wonderlike mense betrokke en uitstekende kinders. Jy sien respek vir mekaar. Hulle het ‘n goeie opvoeding gehad. Hulle is baie vriendelik, en die seuns groet ‘n mens nog met die hand.”
Van den Berg se navorsing voordat hy by die skool aangesluit het, het egter gewys dat daar verskeie wanopvattings oor Bergvlam bestaan. “Mense sien die skool in ‘n Engelse-rigting oorhang. Dis nie waar nie – dis ‘n baie gebalanseerde skool.”
Hy is net so gebalanseerd. Buiten sy werk as departementshoof by Tom Naudé het hy ook twee dogters wat uit die skool is. Hy sal steeds skoolgee. Van den Berg se vakke is in tegniese rigtings, en hy sal waarskynlik IGO gee. Boonop beplan hy ook om die o/15-rugbyspan af te rig.
Dis tog interessant dat hy voorheen in sy loopbaan virvyf jaar die onderwys opgegee het. “Dit was my hart, my liefde vir kinders en die Here se wil wat my teruggelok het.”
