NewsSchools

Vlammie onnie vereer

Die Suid-Afrikaanse Onderwysunie vereer me. Marina Swart van Hoërskool Bergvlam as 'n uitstaande onderwyser.

NELSPRUIT – ‘n Onderwyser van Hoërskool Bergvlam se ervaring is onlangs deur die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) raakgesien en beloon. Me. Marina Swart is deur die unie vereer vir haar uitnemendheid in klaskamerpraktyk.

“Dit beteken sy is ‘n uitstekende onderwyser,” het die skoolhoof me. Annemarie Kleynhans verduidelik. Swart is al vir 23 jaar van die 27 jaar wat sy in die onderwys werk by Bergvlam betrokke. Sy sê kinders het heelwat verander oor die dekades.

“Hulle is meer oop en sê wat hul opinie is. Ek dink dis belangrik dat hulle kan sê wat hulle wil, maar op die regte manier. Die manier waarop mense van mekaar verskil is baie belangrik.”

Swart het na haar troue Laeveld toe getrek en vir sowat drie jaar nie gewerk nie toe sy twee babas gehad het. Daarna het sy Huishoudkunde (nou Gasvryheidsstudies) gegee.

“Toe Toerisme as vak ingefaseer word, was daar niemand anders om dit aan te bied nie. Ek het toe aanvanklik vir die belangstellendes na-ure klasgegee, en so meer daarvan begin leer,” het sy vertel.

Sy het ook departementele opleiding in die vak begin ontvang en tans is Toerisme ‘n gewilde vak onder die Vlammies. Swart reël ook gereeld toere. Haar leerlinge was onlangs in die Kaap en ‘n toer Blydepoort toe word vir Oktober beplan. Dit is alles kurrikulum-verwant en die leerlinge samel self fondse daarvoor in.

“Ek hou van die onderwys. Ek hou van kinders. Dit maak my gelukkig en gee my die kans om so bietjie Ma te wees vir die kinders wat dit nie het nie. As ek met hulle raas, is dit vir my baie belangrik dat hulle verstaan dat ek die situasie of daad afkeer, en nie die kind nie.”

Hoewel sy trots is op die toekenning, sê Swart sy is nie meer spesiaal as haar kollegas nie. “Daar is soveel goeie personeellede by Bergvlam wat net elke dag hulle werk doen.” Soos die hoof sê: een groot familie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button