NELSPRUIT – Hoërskool Bergvlam word nie verniet deur die onderwysdepartement as ‘n voorbeeld, wat nasiebou betref, voorgehou nie. Dié skool is onlangs deur die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) as die een wat die beste vaar in uitnemendheid ten opsigte van transformasie en nasiebou in Mpumalanga aangewys.
Die hoof, me. Annemarie Kleynhans, het dit toegeskryf aan die feit dat elke kind ongeag die ras, taal of kleur betrokke is en hul talente kan uitleef.
“Ons is een groot familie. Dis ‘n omgee-skool. Ons is baie betrokke by die leerders. Die omgee syfer deur na hulle, wat ook deur hul vriende beïnvloed word. Almal neem aan alles deel.”
Leerders word die geleentheid gegun om hul kultuur en belangstellings uit te leef, soos tydens kultuuraande waar alles van rap en pop tot Afrikaanse musiek en tradisionele siSwati danse gesien kan word. Selfs die revue wat verlede jaar aangebied is, het iets van als ingesluit.
“Ons waardes is integriteit, respek, trots, verantwoordelikheid en ubuntu. Leerlinge kry bonuspunte as hulle dit uitleef.” Dit kan hul strafpunte uitbalanseer om detensie te vermy, maar dis beter om eers die goeie te doen net ingeval die punte tot by 100 vorder om ‘n leerling detensie op die hals te haal, lag die hoof.
Op akademiese vlak, is daar ewe veel Afrikaanse en Engelse klasse. Keusevakke word vanaf gr. 10 in beide tale aangebied. “So die kinders moet wakker bly en aanhou deelneem anders mis hulle die helfte van die les.”
Verder het die skool ‘n baie suksesvolle Peace Buddy-sisteem, waarvolgens leerlinge opgelei is om hul maats by te staan in gevalle van sosiale probleme en boelies. “Hulle is opgelei om te weet wat om te doen as een van hul vriende sekere probleme met hulle deel. Dit kan vir kinders baie makliker wees om probleme met ‘n tydgenoot, eerder as ‘n onderwyser of sielkundige te deel,” het Kleynhans verduidelik.
Die leerlinge se omgee strek egter verder as die skool en hulle is ook betrokke in die gemeenskap. So reik hulle uit na kleuterskole en skole met behoeftige kinders, ouetehuise en gemeenskapsorganisasies. “Hulle is passievol en gee om vir die gemeenskap.
Wat Bergvlam ook kop en skouers laat uitstaan, is dat die skool dieselfde hoë standaarde as altyd voorhou. “Alle prestasies word op meriete beoordeel volgens vermoë – geen ander kriteria is van toepassing nie.”
