Leeslab by Laerskool Barberton ontvang skenking
Die leeslab van Laerskool Barberton het hul negende bestaansjaar gevier.
Die leeslab van Laerskool Barberton het hul negende bestaansjaar gevier. Die vrou wat aan die stuur van sake staan, Marietjie Pienaar, vertel dat hulle hardeware heeltemal kapoet was, en sonder fondse sou dit onmoontlik wees om iets aan die saak te verander.
Gelukkig het twee instansies, Huizen Eiendomme en Barberton Myne, besluit om hulle te hulp te snel.
Verlede week het prinsipaal van die eiendomsagentskap, Jaco Landsberg, ‘n skenking van R10 930 gemaak. Hierdie geld is aangewend om ‘n rekenaar-bediener (server) vir die sentrum te koop.
Barberton Myne se skenking het R10 000 beloop.
Beide is dit eens dat hulle daarin glo om in die toekoms van kinders te belê, aangesien ‘n goeie opvoeding die beste plek is om te begin.
“Al die kinders in die skool vind baat by die leeslab en ons wil graag namens hulle ook dankie sê. Sonder hierdie donasies sou die kinders glad nie verder van die rekenaarsentrum kon gebruik maak nie,” het Pienaar gesê.
