Hard newsNewsNewsWar against poaching

Swartrenosters van wildtuin na Botswana gevlieg

Die hervestiging van die diere in Botswana sal natuurbewaring in beide lande bevoordeel

NELSPRUIT – Ses swartrenosters van die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) is gister na Botswana gevlieg om weg te kom van stropers en ‘n subspesie in dié buurland uit te brei.

Dit was ‘n reusetaak om die diere vanaf Skukuza na Kruger Mpumalanga International Airport (KMIA) te vervoer en op die vliegtuig te kry. Alles het gelukkig vlot verloop en hulle kan nou uitsien na ‘n beter kans op oorlewing elders in Afrika.

Dit is nie die eerste keer dat renosters van die wildtuin in Botswana hervestig word nie. In 2003 is vier ook in die Okavango Delta hervestig. Dr. Markus Hofmeyer, hoof van SANParke se veaartesenykundige dienste, het gesê dat die regering van Botswana hulle gevra het of hulle weer swartrenosters kon stuur omdat hulle graag die suidoostelike subspesie wou uitbrei. “Jy kry twee subspesies van die swartrenoster – die sogenaamde woestynrenoster wat in ons suidwestelike parke voorkom, en die suidoostelike subspesie word in die wildtuin aangetref,” het Hofmeyer verduidelik.

Die NKW kon ses afstaan om te laat uitvoer, terwyl die parkeraad in Noordwes ook 10 vir dié doel beskikbaar gaan stel. Mnr. William Mabasa, woordvoerder van die wildtuin, het bygevoeg dat, omdat renosterstropery in Suid-Afrika nou hoogty vier, dit boonop sin maak vir SANParke om hulle risiko te verminder. Botswana het streng wetgewing in plek en renosterstropery kom minder hier voor.

Drie koeie en drie bulle is sowat vyf weke gelede sorgvuldig uitgekies, gevang en in bomas in Skukuza aangehou. Hofmeyer het verduidelik dat hulle so lank voor die tyd in bomas geplaas word, om hulle op die reis voor te berei.
“Hulle moet ander voeding gewoond raak en natuurlik ‘n bepaalde tyd in kwarantyn deurbring voordat hulle na Botswana geneem kan word,” het hy verduidelik. Mikroskyfies is ook in die diere se horings gesit. Interessant genoeg het Hofmeyr opgemerk dat ‘n swartrenoster makliker aanpas in ‘n krat en boma as witrenosters.

Hulle is vroeg gisteroggend verdoof, in ses afsonderlike kratte gelaai en het omstreeks 02:00 op twee vragmotors die tog vanaf Skukuza na die lughawe aangepak.

Die diere is deur SANParke-personeel wat uit wildvangers, veeartse en veldwagters bestaan het, op die reis vergesel. Hulle het omstreeks 08:30 by die lughawe aangekom.

Tyd was min en hulle moes vinnig speel om die kratte af te laai en op die vliegtuig te kry. Hofmeyer het gesê die renosters kan tot 48 uur in ‘n krat deurbring, maar hulle wil die tyd tot die minimum beperk. “Hulle eet of drink glad nie in ‘n krat nie en dit is vir hulle ‘n baie stresvolle ervaring,” het hy gesê.

Die kratte is met aanboord-hyskrane van die vragmotors gelig en op seile wat met kombers en houtsaagsels uitgevoer is, laat sak. Die seile is toe aan die kratte vasgeplak sodat dit die renosters se urine kon opvang sodat dit nie in die vliegtuig sou uitloop nie.

Die kratte is toe op ‘n sogenaamde Commander 15-ton-laaier wat KMIA beskikbaar gestel het, gelaai. Hiervandaan is die kratte na die vliegtuig oorgeplaas. Die vliegtuig wat ingespan is, is ‘n Hercules C130.

Dit is deur maj. Simon Mathware en kapt. Thato Odiretswe van Botswana se lugmag gevlieg. Die totale gewig van die vrag wat hulle moes vervoer was 11 494kg. Dit was die eerste keer dat Mathware en Oridetswe wilde diere moes vervoer en hulle was baie opgewonde.

“‘n Hercules dra maklik dié gewig. Tog is daar sekere haakplekke wat ons in ag moet neem,” het hulle gesê.
Hulle moes eers in Maun land sodat die vrag deur doeane-beamptes goedgekeur kon word. Die vlug van KMIA het sowat twee uur geduur. Hiervandaan moes die diere na Mombo in die delta gevlieg word. Dit het slegs 15 minute geduur.

“Die landingstrook in Mombo is egter net een kilometer lank. Drie van die renosters moet dus eers in Maun afgelaai word omdat die Hercules minder moet weeg om by Mombo te kan land,” het die vlieëniers by KMIA verduidelik.
Hulle was egter hoopvol dat hulle nie enige probleme sou ondervind nie. Hulle het omstreeks 11:55 uiteindelik opgestyg.

Die hele proses is deurentyd deur mnr. Dries Pienaar, bestuurder van Cites by Mpumalanga Parke en Toerisme-agentskap, gemonitor. “Die hervestiging van die diere in Botswana sal natuurbewaring in beide lande bevoordeel,” het hy opgemerk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button