CrimeHard newsNewsNewsWar against poachingUpdate

Sanparke-vyf se verhoor weer eens uitgestel

Charles se prokureur, ene mnr. Sithole, moes egter in die hooggeregshof in Gauteng wees en die saak moes noodgedwonge wéér na 16 en 17 Oktober uitgestel word

MBOMBELA – Die verhoor van die sogenaamde SANParke-vyf wat van renosterstropery aangekla word, is gister weer uitgestel omdat een van die beskuldigdes se regsverteenwoordigers nie beskikbaar was nie.

Mnre. Duncan Mnisi, Tiyene Mabunda, Charles Mabunda, Doctor Mgwenyama en me. Jennifer Brown word daarvan verdink dat hulle twee witrenosterbulle in die Pretoriuskop-gedeelte van die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) op 27 Februarie 2012 gestroop het. Hulle het almal in die wildtuin diens as onderskeidelik veldwagters, veldgidse en verkeersbeamptes ten tye van die voorval gedoen.

Hulle is kort hierna danksy puik ondersoekwerk deur onder andere, mnr. Don English, ‘n streeksveldwagter in NKW, aangekeer. Charles het glo met die hele sak patats vorendag gekom en aan English vertel dat hy daardie nag besig was met ‘n rit toe Mgwenyama hom gebel het.

Hy het Charles gevra om hom te kom oplaai en hulle het saam op die Voortrekker-pad gery. Mgwenyama het nog ‘n oproep gemaak en twee ander mans het uit die bosse verskyn. Dit was Mnisi en Tiyene en hulle het ‘n R1-aanvalsgeweer by hulle gehad. Hulle het na bewering aan Mgwenyama gesê dat hulle geen renosters kon kry nie en hy het Charles opdrag gegee om verder op die Nape-pad te ry. Hulle het op renosters afgekom en Mgwenyama het glo die R1, wat met ‘n knal-demper toegerus was, gevat en die diere geskiet.

Charles het na bewering gesê dat hulle almal gehelp het om die horings met ‘n panga en byl te verwyder. Dié is glo aan mnr. Elton Maluleke gegee, ‘n voormalige veldwagter wat uit SANParke se diens ontslaan is toe hy tydens ‘n dissiplinêre verhoor skuldig bevind is. Maluleke het glo ‘n wenk gekry dat Mgwenyama en sy makkers gevang is en het op die vlug geslaan.

Al vyf die beskuldigdes is op R20 000-borg uit en hulle verhoor sou gister in die streekhof in Nelspruit afskop.

Charles se prokureur, ene mnr. Sithole, moes egter in die hooggeregshof in Gauteng wees en die saak moes noodgedwonge wéér na 16 en 17 Oktober uitgestel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button