MunicipalNews

Kragonderbreking nie beurtkrag, sê Mbombela

Wat vermoedelik die toepassing van beurtkrag was as gevolg van die snerpende koue Woensdag, was toe eintlik 'n kragonderbreking weens 'n foutiewe transformator en elektrisiteitskabels.

MBOMBELA – Gedeeltes van West Acres en Sonheuwel is omstreeks 16:30 skielik in duisternis gehul en verkeer was in chaos gedompel toe duisende motoriste na werk huiswaarts gekeer het en talle verkeersligte buite werking gelaat is.

Volgens me. Bessie Piennaar, kommunikasie-beampte van Mbombela Munisipaliteit, kan dit toegeskryf word aan die Geelhout-substasie se transformator en kabels wat foutief was. Hulle moes wag vir ‘n vragmotor met ‘n hyskraan al die pad van eMahlahleni (Witbank) af voordat herstelwerk kon begin. Die transformator is vroeg Donderdagoggend vervang en teen 06:00 was kragtoevoer na die meeste dele herstel.

Herfsakker-ouetehuis, Boekenhout, Tamboti en gedeeltes van Acacia en Figtree-strate was teen druktyd egter steeds sonder krag weens die foutiewe kabels. Die probleem sou na verwagting teen laatmiddag uitgesorteer was.

Luidens ‘n mediaverklaring deur Eskom sukkel dié organisasie steeds om in die land se kragbehoeftes te voorsien weens die hoër aanvraag na krag en omdat sommige van sy opwekkingseenhede nie beskikbaar is nie. Die moontlikheid van beurtkrag is dus nie uitgesluit nie.

Eskom doen dus ‘n beroep op verbruikers om verwarmers spaarsamig te gebruik en om badketels (geisers), swembadpompe en ander nie-noodsaaklike toerusting af te skakel. Hier is ‘n paar wenke om kragverbruik te verlaag:
• Kamertemperatuur is 23°C. Om hierdie temperatuur vol te hou, sorg dat alle vensters en deure toe is terwyl die lugversorging aan is. Skakel dit dertig minute voordat die kantoor verlaat word, af.
• Skakel badketels (geisers) en swembadpompe tussen 17:00 en 21:00 af.
• Beperk swembad-filtrering tot slegs twee siklusse per dag wat nie in die bogenoemde tydstip val nie.
• Skakel alle nie-noodsaaklike ligte af.
• Reageer op Power Alert en Power Bulletin boodskappe deur alle nie-noodsaaklike toerusting af te skakel.

Eskom se kommersiële kliënte, onder andere winkelsentrums en kantoorgeboue, kan die grootste verskil maak deur nie-noodsaaklike ligte en toerusting saans af te skakel.

Indien beurtkrag weer geïmplementeer word, word dit volgens Eskom se beurtkrag-skedule gedoen. Die skedule kan by www.loadshedding.eskom.co.za gesien word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button