Plaaswag trek stropers vas
Die Hoedspruit plaaswag het binne een week sewe vermeende stropers vasgetrek.
HOEDPSRUIT – Drie verdagtes is op 28 Mei op die R40 na Klaserie in ‘n bakkie aangekeer. Na ‘n hoëspoedjaagtog is die voertuig tot stilstand gedwing deur plaaswaglede. Die SAPD het drie mans met ‘n .485 jaggeweer, ‘n 9mm pistool en ammunisie gearresteer. Twee kapmesse is ook gevind.
Agt dae later, op 5 Junie is vier verdagtes aangekeer op die Kampersruspad; twee mans en twee vroue. Die arrestasie is deur die SAPD gemaak en ‘n .375 jaggeweer, knaldemper en ammunisie is aan die verdagtes gevind.
Hoedspruit plaaswag is werksaam in ‘n 50km radius om die dorp en maak staat op donasies en ledegeld om hul pligte uit te voer. ‘n Woordvoerder van Game Rangers United het ook die organisasie se dank uitgepsreek vir die goeie werk in die aankeer van verdagte stropers wat deur die plaaswag uitgevoer word.
Die drie verdagtes wat op 28 Mei gearresteer is, mnre. Given Mashaba (30), Livhuwani Mafinya (33) en Sifiso Mbujane (31) het die volgende dag in die periodieke hof verskyn waar elk op borg van R5000 vrygelaat is. Aangesien geen teken gevind is dat ‘n renoster deur die verdagtes geskiet is nie, word die saak ondersoek deur die plaaslike speurtak. Waar tekens van stropery gevind word, moet die saak oorhanding word aan die Direktoraat Prioriteits Misdaad (Valke). Volgens die Nasionale Vervolgings Gesag (NVG), moet die staatsaanklaer verseker dat ‘n ondersoekbeampte die hofverrigtinge bywoon en bewys lewer wat die toestaan van borg teenstaan.
Borg kan toegestaan word aan verdagtes in sake van renosterstropery, maar die staat kan borg teenstaan. Die onwettige besit van ‘n 9mm pistool lei outomaties tot ten minste 10 jaar gevangenesstraf.
Na bewering is twee Mosambiekse mans in Maart op Moholoholo aangekeer. Hulle was in besit van ‘n jaggeweer, saag en ammunisie. Die verdagtes het skuld beken op klagtes van oortreding in Hoedspruit se periodieke hof, en is elk ‘n boete van R3000 opgele of tronkstraf van een jaar. Laevelder doen navraag oor hierdie en ander renoster-verwante sake wat plaaslik ondersoek is en in hierdie hof aangehoor is.
