NewsNewsSchools

Bergland-leerlinge kan binnekort nuwe bib benut

Van volgende kwartaal sal leerlinge van Laerskool Bergland 'n nuwe plek hê om te sit en boeklees of navorsing doen.

Leerlinge van Laerskool Bergland gaan vanaf volgende kwartaal in ‘n splinternuwe mediasentrum kan gaan sit en lees of navorsing doen.

Die skool is sedert die begin van die jaar besig om ‘n ou huis naby aan die skool in ‘n pragtige, huislike biblioteek te omskep. Daar is al rakke op en meubels aangeskaf, kompetisies is gehou en skenkings van tweedehandse en nuwe boeke is ontvang.

Hulle het egter nog ‘n drukker (printer), ‘n radio/cd-speler, nie-fiksie boeke vir graad 4 tot 7’s, helderkleurige akriliese verf vir muurskilderye, kontinentale strooikussings en plante nodig.

Van die derde kwartaal af, gaan leerlinge ‘n spesiale mediasentrum-periode hê waartydens hulle boek kan kom uitneem of navorsing doen.

Daar sal soms ‘n lees-uurtjie gehou word waartydens die mediasentrum-juffrou ‘n boek aan die kinders sal voorlees om hul luistervaardighede te verbeter. Die kinders sal ook ‘n kans kry om die stories te lees en dramatiese stemveranderings te doen.

Die mediasentrum sal elke tweedepouse oop wees sodat leerlinge daar kan kom sit en lees, hetsy boeke of tydskrifte. Die mediasentrumleiers sal dan op diens wees om toesig te hou oor die leerlinge en die boeke weer netjies op die rakke terug te plaas.

Later sal die mediasentrum ook twee middae ‘n week oop wees sodat leerlinge daar kan kom lees of navorsing doen.

Die mediasentrum het heelwat plate met stories en saamsing-liedjies en sal graag ‘n elektriese platespeler wil hê sodat hulle dit somtyds vir die kinders kan speel.

Daar is ook ‘n auditorium-vertrek waar daar hopelik in die toekoms flieks vir die kinders vertoon kan word. Dit sal egter eers kan plaasvind wanneer die mediasentrum ‘n ‘smart board’ en ander elektroniese toerusting het. Die kinders sal dan lekker op die banke en op strooikussings op die mat kan sit.

Die rekenaarlokaal sal ook vanaf volgende kwartaal oopgestel word. Leerlinge kan dan op die internet navorsing doen of opvoedkundige speletjies kom speel.

Vir navrae of om iets te skenk, skakel gerus die skool by 013-744-1959.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button