‘n Pa speel ‘n baie belangrike rol in ‘n kind se lewe en dis hoekom Vadersdag jaarliks gevier word. Kinders bederf gewoonlik hul vaders deur ontbyt in die bed te bedien, tyd saam met hulle te spandeer of geskenke uit te deel om die dag spesiaal te maak.
Daarom het plaaslike kleuterskole dus besluit om unieke geskenke vir elke pappa te maak.
Dienkieland se kleuters het al vroeg in die week aan die werk gespring om sleutelhouers te maak en dit was behoorlik ‘n gesny en ‘n geverf om dit klaar te kry.
Met behulp van die eienaar, Berdine Pain, Ina Potgieter, Petty Mokoena en Charlene Pain het die kleintjies foto’s opgeplak en ‘n verfafdruk van hul hande op die sleutelhouer gemaak. ‘n Bruinpapiersakkie is met verf versier en die geskenk is daarin toegedraai.
Die meeste pappas is gek oor ‘n braai, en dis hoekom Mickey Muis Kleuterskool se kleuters hierdie jaar ‘n braaihouer gemaak het waarin pa sy vuurhoutjies en Blitz kan bêre.
Die maatjies het dit in koerantpapier toegedraai. Die kleintjies van Beertjieskool het die oorspronklike idee gekry om vir elke pa ‘n logboek te maak sodat hy kan rekening hou van sy brandstofverbruik. Die boekies is mooi toegedraai en versier.
