Laerskool Numbi se Landsdiensklub het op 31 Mei, vier kilometer tussen Graskop en Sabie gaan stap. ‘n Totaal van 84 ouers, boeties, sussies, leerders en personeellede het 7:00 by die skool bymekaargekom en vandaar na Mac Mac Retreat vertrek.
Die konvooi het teen 8:00 by Mac Mac Retreat aangemeld en ‘n pas gekry vir die stap na die Forest Fall-watervalle. Almal is daarna na die piekniek-area waar net die nodigste in rugsakke gepak is.
Die staproete was asemrowend en het al langs die rivier gekronkel. Die stappers het hul verlustig aan die waterval en natuurskoon, maar daar was ‘n paar benoude afdraandes, waar hulle aan kettings moes vashou om nie te gly nie.
Na twee ure se stap het die groepie heerlik by hul eindbestemming piekniek gehou. Dit was ‘n heerlike familiedag waar die kinders hul liefde vir die natuur kon uitleef.
