NewsWar against poaching

Hulp vir renostertjie ná hiënas ore vreet

Die arme dier se oortjies was amper tot op die "been" weg en vol rowe. Daar word vermoed dat 'n hiëna die dier - wat uiteraard weerloos sou wees sonder haar ma - geteiken en beetgekry het.

MBOMBELA – ‘n Renosterkalfie wat se ore deur hiënas afgebyt is, het haar eie redding bewerkstellig toe sy na die teerpad naby Orpen-hek in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) gestap het en deur toeriste gevind is.

Dié vyf maande oue koei, genaamd Wyntir, is nou in Care for Wild Africa, ‘n rehabilitasiesentrum vir wilde diere, se sorg. Die kalfie se ma is waarskynlik deur stropers van kant gemaak. Mnr. Isaac Phaahla, ‘n SANParke-woordvoerder, het by navraag gesê dat mnr. Steven Whitfield, streeksveldwagter van Tshokwane, nie seker is wat met Wyntir se ma gebeur het nie. “Dit is selde dat kalfies van hul ma’s geskei word. Dit is ook onwaarskynlik dat sy weens natuurlike oorsake dood is, aangesien sy dan nie so onlangs sou kalf nie. Ons neem aan dat stropers die ma geskiet het omdat die kalfie in ‘n omgewing gevind is waar renosterstropery nou baie plaasvind. Ons moet wel nog ‘n karkas vind.”

Die arme dier se oortjies was amper tot op die “been” weg en vol rowe. Daar word vermoed dat ‘n hiëna die dier – wat uiteraard weerloos sou wees sonder haar ma – geteiken en beetgekry het.

Sy is met ‘n pyl verdoof en deur veeartse daar behandel. Omdat sy nog aan haar ma moet drink en nie vir haarself kan sorg nie, is daar besluit om haar na die sentrum te bring. Me. Petronel Nieuwoudt, stigter van Care for Wild, het gesê dat hulle toe ‘n permit gekry het om die kalfie na die sentrum in ‘n krat te kon vervoer. Sy het Vrydagaand daar aangekom.

“Ons moes haar eers rustig maak. Ons het toe gesien dat sy onsettend beseer is – met oop wonde waar haar ore afgebyt is, krapmerke en ook wonde aan die kop soos sy aangeval is.” Die span by Care for Wild Africa het haar met pynstillers ingespuit en haar wonde verder behandel.

Wyntir het wel ‘n rowwe eerste aand gehad en haarself heeltyd teen die krat gestamp. Dit is nie ongewoon vir renosterkalfies om ongemaklik en verveeld in klein spasies te raak nie.

Die span by Care for Wild Africa het ook 24 uur by Wyntir gewaak om seker te maak dat sy rustig en gemaklik is. Nieuwoudt en haar span gaan so gou moontlik ‘n boma bou waarin sy aangehou sal word. Hulle hoop om dit met ‘n gasverwarmer toe te rus en sal ander maatreëls in plek stel om seker te maak Wyntir beseer haarself nie verder nie. “Ons sal seker maak dat Wyntir die beste sorg ontvang,” het Nieuwoudt gesê en bygevoeg dat die wonde ‘n geruime tyd kan neem om ten volle te herstel. Sy het weer benadruk dat Care for Wild Africa nie sonder die samewerking van veeartse en skenkings van die publiek behoorlik sou kon funksioneer nie. ”

As daar enigiemand is wat bereid is om met die befondsing van Wyntir te help, kan hul ons Facebook-blad gaan besoek,” het Nieuwoudt versoek.

Navrae: Nieuwoudt by petronel@careforwild.co.za

Vir ‘n video van die renosterkalfie klik hier

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button