Groot dinge wag op speler
Winterbach is genomineer om aan dié gesogte toernooi deel te neem nadat hy, saam met Migaeil van Velden, nog ‘n leerder van die skool, aan die proewe in Middelburg deelgeneem het.
Die volgende Roland Garros-ster is waarskynlik ‘n Lydenburger. Francois Winterbach, Gr.12-leerder, en ook hoofseun van Hoërskool Lydenburg het provinsiale kleure ontvang tydens die interprovinsiale tennistoernooi wat onlangs in Pretoria plaasgevind het.
Winterbach is genomineer om aan dié gesogte toernooi deel te neem nadat hy, saam met Migaeil van Velden, nog ‘n leerder van die skool, aan die proewe in Middelburg deelgeneem het. Hy en Van Velden was die enigste leerders van die skool wat gekwalifiseer het om daar te gaan meeding.
Alhoewel Van Velden die span net-net gemis het, het Winterbach keurders se oog getrek en is hy in die Mpumalanga o/19-span opgeneem om sake in die nasionale toernooi in Bloemfontein verder te gaan uitspook. Hier is kragte onder andere met Zimbabwe gemeet en alhoewel die mededinging straf was, het die span hulself goed van hul taak gekwyt en algeheel agste geëindig.
Die manspan het bestaan uit ‘n speler elk van Hoërskool Nelspruit, Ermelo, Middelburg en Lydenburg.
