Laerskool Bergland het op die laaste dag van die kwartaal die hemelruim met 700 ballonne gevul. Die skool het besluit om die kwartaal met Jeugdagvieringe af te sluit en het me. Liza de Lange, ‘n lewensafrigter met ‘n passie vir kinders, versoek om die leerders toe te spreek.
Die tema was “Wees lief vir jouself, wees lief vir ander” en hulle het elkeen ‘n boodskap van hoop, vergifnis, vertroosting, liefde of genade op ‘n papiertjie geskryf. Dit is daarna in ‘n ballon geplaas wat met helium opgeblaas is.
Dié wat in wit hemde geklee was, het met ‘n ballon in die hand in die vorm van ‘n hart op die sportveld gaan staan. Dit was ‘n pragtige gesig toe die ballonne losgelaat is en kinders het vir ‘n oomblik net gestaan en kyk hoe hulle wegdryf.
Cherize Coetzer, ‘n gr. 1-leerling, het toe vol hoop gevra: “Gaan my ballon met sy boodskappie regtig tot by Jesus?”
