CrimeHard newsNewsNewsWar against poaching

Jaggeweer tydens plaasaanval gevat vir renosterstropery bestem

Daar is ondermeer 'n Winchester geroof - dieselfde Winchester waarmee Mandla Sibiya en Thabiso Mokoena die wildtuin sou binnegaan

MBOMBELA – ‘n Plaaslike landdros het Dinsdag gewaarsku dat renosterstropery hierdie jaar ‘n rekordhoogte sal bereik. As jy na die nuutste stropingsyfers kyk wat gister (Donderdag) deur die Departement van Omgewingsake vrygestel is, blyk hy reg te wees.

Daar is nou al 558 renosters gestroop sedert die begin van die jaar – 351 van hulle in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW). Teen die einde van verlede jaar, was daar 1 004 gestroop.

Dié landdros – mnr. André Geldenhuys – het Dinsdag twee stropers tot 16 jaar tronkstraf gevonnis (lees storie elders). Hy het ook onlangs twee mans tot nege jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle in 2010 die wildtuin onwettig betree het.

Hulle is gelukkig aangekeer voordat hulle ‘n renoster kon stroop – met ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie wat twee jaar vantevore tydens ‘n plaasaanval gebuit is.

Me. Ria Brown is destyds op ‘n plaas naby Ngodwana deur twee mans oorval wat haar onder meer met ‘n plastieksak gesmoor het sodat sy vir hulle moes vertel waar haar man se kluis met die vuurwapens was. Daar is ondermeer ‘n Winchester geroof – dieselfde Winchester waarmee Mandla Sibiya en Thabiso Mokoena die wildtuin sou binnegaan.

Hulle het een nag in die Stolsnek-gedeelte geloop op soek na renosters. Veldwagters het skote gehoor en dadelik gaan ondersoek instel. Hulle het gesien dat iemand ‘n klein liggie skyn en nader gegaan.

Hulle het op twee mans – Sibiya en Mokoena – afgekom en hulle beveel om te stop. Hulle het die Winchester oorgehaal en ‘n skietgeveg het tussen hulle en die veldwagters ontstaan. Sibiya is aangekeer, maar Mokoena kon daarin slaag om te ontsnap. Hy is wel later buite die wildtuin gearresteer. Sibiya is aanvanklik borg toegestaan. Hy het egter nie teruggekeer vir sy verhoor nie en sy borg is later teruggetrek.

Geldenhuys het hulle tot drie jaar tronkstraf gevonnis vir die onwettige betreding van die wildtuin, asook ses jaar vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen (die Winchester) en ‘n verdere ses jaar vir die onwettige besit van ammunisie. Hy het gelas dat die twee vonnisse van ses jaar samelopend uitgedien moet word.

Intussen is Zizwe Mahule en Thulani Nonyane vir die aanval op Brown aangekeer. ‘n Derde verdagte wat die wegkommotor bestuur het, word ook aangekla. Mahule dien tans tronkstraf uit vir moord en Nonyane het al tronkstraf uitgedien omdat hy vantevore met ‘n onwettige jaggeweer buite die wildtuin betrap is.

Hulle word aangekla van roof met verswarende omstandighede, seksuele aanranding en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en moet op 25 Julie weer in die hof in Middelburg verskyn.

Die staat is vol vertroue dat hulle ‘n skuldigbevinding sal kry omdat Brown ondermeer die verdagtes positief tydens ‘n uitkenningsparade uitgeken het. Sy het egter intussen haar eie lewe geneem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button