Landdros het harde woorde vir renosterstropers
Mense wat met goeie bedoelings die land inkom, kom deur grensposte, nie onderdeur drade nie

MBOMBELA – Veldwagters van die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) het verlede jaar na die naweek van 27 April as “Black Easter” verwys vanweë die talle gevalle van renosterstropery wat toé plaasgevind het. Gelukkig het geregtigheid geseëvier toe twee booswigte wat ‘n renoster daardie Saterdag afgemaai en onthoring het, Dinsdag tot 16 jaar tronkstraf gevonnis is.
Die landdros, mnr. André Geldenhuys, het harde woorde gespreek toe hy die vonnisse opgelê het. Twee Mosambiekers – Jazeya Bila (29) en Sivadore Nkuna (33) – en ‘n Suid-Afrikaanse burger (slegs bekend as Lucky) het op 27 April verlede jaar die Stolsnek-area van die wildtuin onwettig betree deur onderdeur ‘n grensdraad te kruip. Hulle het ‘n renoster met ‘n .458 jaggeweer doodgeskiet en beide die horings uitgekap.
Veldwagters het die skote gehoor en die gebied vir die verdagtes gefynkam. Een van die veldwagters met ‘n spoorsnyhond het die mans gesien en hulle is kort hierna vasgetrek.
Die .458 en agt rondes ammunisie is by hulle gevind. Hulle het, tipies soos wat ‘n voël op ‘n eier broei, op die horings gelê sodat veldwagters dit nie moes sien nie.
Lucky is borg toegestaan omdat hy ‘n Suid-Afrikaanse burger is en het nie vir sy verhoor teruggekeer nie. Jazeya en Sivadore het Dinsdag op vier klagtes, wat onwettige jag; onwettige betreding van die wildtuin; asook die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie ingesluit het, skuldig gepleit.
Hulle het egter al die blaam op Lucky gesit en het beweer dat hulle nie geweet het dat hulle ‘n renoster sou stroop toe hulle die wildtuin betree het nie. Hulle het ook gesê hulle weet nie waar Lucky die geweer gekry het nie en ook nie na wie hy die horings sou neem nie.
Hulle het aanvanklik gesê dat hulle nie geweet hoeveel geld hulle vir die horings sou kry nie, maar later toegegee dat hulle geweet het dit sou “baie” wees. Die mans se regsverteenwoordiger, mnr. Erwin Sithole, het ter strafversagting aan Geldenhuys voorgehou dat, hoewel renosterstropery inderdaad ‘n baie ernstige misdryf is, Jazeya en Sivadore se omstandighede net so “hartseer” is.
Geldenhuys het in ag geneem dat hulle reeds 14 maande in aanhouding was; nie die hof se tyd gemors het nie deur skuldig te pleit en daadwerklike berou getoon het. Tog het hy ‘n swaar vonnis opgelê en duidelike redes hiervoor aangevoer.
Landdros André Geldenhuys se redes vir vonnisoplegging
• “Hierdie tipe misdrywe is absoluut aan die orde van die dag. Ondanks al die voorsorgmaatreëls wat getref word om dit hok te slaan, is dit ongetwyfeld aan die toeneem. Daar is verlede jaar meer as 600 renosters in die wildtuin gestroop, maar soos dinge nou aangaan, is ‘n nuwe rekord op pad. Dit kan nie so aangaan nie. Dit kan nie geduld word nie.”
• Geldenhuys het gesê dat die staat reeds baie doen om renosterstropery te verhoed en dat die regering op ‘n baie hoë vlak betrokke is, maar niks blyk te help nie. “Julle kan nie ‘n draad knip en deurkruip en dan die verskoning voorhou dat julle nie geweet het ons het soveel probleme met julle wat ons renosters afmaai nie,” het hy bygevoeg. “Julle onkunde kan nooit as versagtende faktor dien nie.”
• Geldenhuys het voortgegaan deur te sê dat, indien renosterstropery goedgepraat word, renosters binnekort sal uitsterf.
“Dit gaan hier oor die bewaring van hierdie unieke dier vir die nageslag. Daarom het die gemeenskap ‘n direkte rol by die oplê van gepaste vonnisse. Die hof het ‘n plig om die gemeenskap se belange in dié verband te dien.”
• Geldenhuys het wel genoem dat, volgens die hof se oordeel, die regering meer behoort te doen. “Indien die weermag meer aangewend word om te keer dat onwettige immigrante die land binnekom, sal suksesse duideliker word.”
• Hy het weer hard met Jazeya en Sivadore gepraat: “Mense wat met goeie bedoelings die land inkom, kom deur grensposte, nie onderdeur drade nie.”
