Die inwoners van Maggiesdal is in hul noppies omdat water weer gereeld afgelewer word. Nelspruit Post het verlede week berig dat inwoners van dié munisipale behuising vir ‘n week daarsonder gelaat is.
Die water word na die plaas aangery en in ‘n dam gestoor, maar toe dit gestaak is oor daar nie tenkwaens beskikbaar was nie, het die voorraad opgedroog.
Die munisipaliteit het egter ‘n plan beraam en sedertdien al twee keer water laat aflewer. Me. Gerda Spies, wat saam met haar man en drie dogters daar woon, het Maandag gesê sy is so bly, sy sal selfs daar aanbly. Mnr. Hannes de Kock, DA-raadslid in die area, het gesê hy is ook bly dat hulle weer water het, maar het bygevoeg dat hy wil hê die munisipaliteit moet verhoed dat dit weer gebeur.
“Ek is nog nie heeltemal tevrede nie. Ek wil hê hulle moet vir my wys dat hulle ‘n plan B het vir wanneer hul gewone verskaffers hul weer in die steek laat.”
Die aflewering het blykbaar gestaak omdat die trokke buite werking was. Volgens Spies is dit steeds nie die gewone verskaffers wat tans water aanry nie.
De Kock het uitgewei, “Daar is baie ander beskikbare kontrakteurs. Hulle moenie sê hulle kan niemand anders kry om water af te lewer nie.”
