Luitenant-generaal nou in beheer van renosterondersoeke
Die oorlog word toenemend kompleks en die boosdoeners word net meer en meer gesofistikeerd in die metodes wat hulle gebruik om renosters te stroop
PRETORIA – Die polisie het hulself opnuut tot die bekamping van renosterstropery in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) verbind deur ‘n luitenant-generaal aan te stel om ondersoeke en operasies daar te lei.
Lt.genl. Vineshkumar Moonoo, wat ook die ondersoek na Reeva Steenkamp se moord gelei het, sal aan die hoof staan van ‘n span speurders wat spesifiek opgelei is om omgewingsmisdade te ondersoek, asook forensiese kundiges, die polisie se lugvleuel, blitspatrollie en honde-eenheid wat getaak is om dié stropery hok te slaan.
Die aankondiging is Dinsdag deur nasionale kommissaris genl. Riah Phiyega gemaak. Sy het media saam met die minister van omgewingsake, me. Edna Molewa, in Pretoria toegespreek oor wat die regering tans beoog om renosterstropery te bestry (lees storie hier).
“Hierdie span sal alle uitstaande en nuwe stropingsmisdaadtonele besoek en behoorlike ondersoekwerk doen. Die span was die afgelope twee weke reeds by verskeie,” het sy gesê.
Speurders op Skukuza, onder leiding van AO Willie Broodryk, asook speurders van die georganiseerde misdaadeenheid, het reeds goeie suksesse gesmaak en verskeie skuldigbevindings deur knap ondersoekwerk in die howe verseker.
“Gemeenskappe wat langs die wildtuin bly, speel ‘n baie belangrike rol by die inwin van inligting en daar word baie moeite gedoen om informantnetwerke op te bou,” het Phiyega voorts gesê.
“Daar is verstandhoudings met buurlande in plek om renosterstropery deur SARPCCO (‘n organisasie wat uit hoofde van Afrikalande se polisie bestaan) aan te spreek.”
Sy het benadruk dat daar nie ‘n maklike oplossing vir die probleem is nie. “Die oorlog word toenemend kompleks en boosdoeners word net meer en meer gesofistikeerd in die metodes wat hulle gebruik om renosters te stroop.”
