
Graad 4-Kamp – Panorama Route
Uiteindelik het die dag aangebreek wat ons op ons kamp vertrek het. Oppad na Manoutsa Park, het ons eers by die kolkgate en die grotte ‘n draai gemaak. Ons het ons instrukteurs van T.V.G ontmoet en hulle het ons interessante dinge laat doen soos die “body check”. Ons moes ‘n gelukbringer bou van stokke en blare. Een van ons hoogtepunte was die glybaan en swem. Na vier ure se baljaar in die water was ons kapoet. Moholoholo was ons volgende bestemming waar ons ‘n bootrit geniet het en met stokke geveg het. Ons het ook op ‘n wildrit gegaan. Die rehabilitasiesentrum was baie interessant met al die diere en voëls wat beseer is en versorg word. Daar het ons die wêreld se slimste ratel, Stoffel, ontmoet. Dit was ‘n wonderlike kamp wat ek nooit sal vergeet nie. – Conrad Joubert
Graad 5 Kamp – Misty Valley Lodge
Op Maandagoggend, 4 Augustus 2014 het al die skoliere en onderwysers vertrek na Misty Valley Lodge naby Machadodorp. Daar aangekom is die skoliere elk in hul onderskeie kamers ingedeel. Hulle het lekker kettieskiet, hindernisbaan en ook ‘n avontuur resies gedoen en daardie aand het almal saam lantern bekruip. Die volgende oggend het almal lekker vroeg opgestaan en die skoliere het begin met hulle spankrete en het op ‘n skattejag gegaan. Die skoliere het ook lekker saam met Mnr. Fanna visgevang. Woensdagoggend het die skoliere en onderwysers lekker gaan stap en gekyk na al die diere en plante. Dit was ‘n goeie tyd om weer bietjie meer te leer. Later het die skoliere die geleentheid gehad om hulle eie vlot te bou en dit te toets op die yskoue damwater. Dit was regtig ‘n sink of swem situasie. Daardie middag moes die skoliere weer ‘n skattejag doen. Dit was voorwaardelik ‘n week van pret, rus, saamlag en speel. Dankie aan almal wat dit ‘n week gemaak het om te onthou!
Graad 6-Kamp — Blyde Adventure Camp
Op Maandag, 4 Augustus het ‘n opgewonde graad 6-groep om halftwaalf by hul skilderagtige bestemming geleë langs die Blyderivier, aan die voet van ‘n bergreeks, aangekom. Die avontuuraktiwiteite het begin met ‘n toulopery oor die rivier gevolg deur ‘n Tarzan-swaaitou oor en in die water.
Daarna het vele aktiwiteite gevolg soos vaardigheidspeletjies, hindernisbane, stap in die berg tot by die dam waarop almal met rubberbote resies gejaag het, teiken geskiet het, op ‘n waterglyplank tot in die rivier gegly het, brug gebou het en vlugbal ens. gespeel het. Die hoogtepunt was seker die aand toe tradisionele dansers en tromslaners van die omgewing ‘n knap vertoning aangebied het. Daarna is die kinders in groepe verdeel en deur die groep afgerig om tromme te slaan en danse te dans.
Die laaste aand is almal teen die berg uit waar ‘n groot kampvuur gebrand het. Daar is gesing en malvalekkers gebraai. Kort voor lank het die busse opgedaag, waar daar gepak en gegroet is. Met die terugry deur die pragtige Laeveld kon elkeen ons Skepper dank wat aan elkeen die voorreg gegee het om ‘n paar dae weer naby aan Hom en Sy Skepping te kon vertoef.
Graad 7-Kamp — KZN
Al die graad 7s het om 05:15 vertrek vanaf Nelspruit na Durban. Dit was ongeveer 11 ure se ry met ‘n bus en ons moes 3 of 4 keer stop om bene te rek.
Toe ons daar aankom, is ons verwelkom deur TVG. Die plek waar ons geslaap het, genaamd Treasure Beach het ‘n pragtige uitsig oor die Indiese Oseaan gehad. Ons het die plek verken en voor ons weet was dit aandete. Ons het om 21:00 in die bed gespring.
Die volgende oggend het ons vroeg opgestaan, geëet en vertrek na die suikermeule. Mense het ons daar vertel hoe suiker gemaak word. Ons het toe 11:00 by die Natuurwetenskappe Museum aangekom en alles daarbinne bewonder. Ons het ‘n goeie middagete by McDonalds geniet en daarna op ‘n Geskiedkundige rit deur Durban op ‘n oop-bus geneem. Ons het teruggekeer na Treasure Beach, geëet, gestort en reggemaak om ‘n film by Gateway inkopiesentrum te gaan kyk.
Woensdag was die dag waarvoor almal gewag het. Vroeg was ons by Natal Sharks Board om meer oor haaie te leer. Daarna het ons na die Ushaka Marine World vertrek om na ‘n dolfyn vertoining te kyk, gevolg deur ‘n stappie deur die akwarium. Weereens het ons lekker middag-ete by Panarottis gehad waarna ons na die water pretpark vertrek het. Daar aangekom en die hele middag daar baljaar. Dit was fantasties!
Ons het die aand oornag in die akwarium en het rond gespeel, na haaie gekyk en net pret gehad tot 03:00 die oggend.
Baie dankie vir die personeel van Curro wat ons die geleentheid gegee het om die toer te geniet!
– Matthys Wessels
