DA verkla SANParke by Thuli Madonsela
Sy verwys spesifiek na 'n drie jaar lange kontrak met Pathfinder om intelligensie te verskaf oor stropers wat in die wildtuin aktief is. Pathfinder was glo baie suksesvol en die kontrak met dit is sonder rede, 10 dae na die arrestasie van drie verdagtes, beëindig

SKUKUZA – Die DA het die Openbare Beskermer, adv. Thuli Madonsela, gevra om ondersoek in te stel na SANParke se klaarblyklike “mislukking” om renosters te beskerm, asook die redes waarom ons ooglopend die stryd teen stropery verloor.
Me. Terri Stander, skadu-adjunkminister van omgewingsake het die klagte aan die einde van Julie ingedien. Sy vra onder meer dat Madonsela ondersoek instel na die volgende:
• Die voorgestelde plan om 500 renosters uit die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) te skuif is glo aanvanklik op ys gesit weens beweerde politieke bekgevegte binne SANParke
• Alle kontrakte en projekte wat deur die voormalige hoof-uitvoerendebeampte van SANParke, dr. David Mabunda en die geskorste hoof van bewaring, dr. Hector Magome, beklink of van stapel gestuur is, is na bewering stop gesit. Sy verwys spesifiek na ‘n drie jaar lange kontrak met Pathfinder om intelligensie te verskaf oor stropers wat in die wildtuin aktief is. Pathfinder was glo baie suksesvol en die kontrak met dit is sonder rede, 10 dae na die arrestasie van drie verdagtes, beëindig.
• Vrae wat ontstaan het oor wie uit die private verkoop van renosters gebaat het en of die fondse wel vir dié diere se bewaring aangewend gaan word.
• Die “mislukking” van die departement van omgewingsake om stropery te laat afneem. Stander noem hier dat gerugte dat korrupsie ‘n bydraende faktor is, veral kommerwekkend is.
• Nasionale polisiekommmissaris genl. Riah Phiyega, het genoem dat daar ‘n ooreenkoms tussen Mosambiek en Suid-Afrika bestaan om verdagtes uit te lewer. Volgens Stander betwis bronne binne die polisie en die wildtuin dit.
• Daar is ook vrae rondom die effektiwiteit van verstandhoudingsooreenkomste wat Suid-Afrika, Mosambiek en Viëtnam onderteken het.
• Stander meen dat daar te min stropers gearresteer word en dat daar heelwat vertragings in die finalisering van hofsake is.
• Sy noem verder dat, volgens amptelike getalle, daar 631 renosters gestroop is, maar dat die werklike getal reeds nader aan 700 is.
