NewsSchools

Kreatiewe idees laat sente klingel

Een van die gewildste aantrekingskragte op die terrein vir die seuns was die veerpyltjiestalletjie asook die Sumo Stoei en kussinggevegte.

MBOMBELA – Laerskool Bergland se gr. 7-leerlinge het Vrydag 8 Augustus hul jaarlikse entrepreneursdag gehou met ‘n berg kleurvolle en kreatiewe skeppings wat sente laat klingel en note laat rol het.

Daar was ‘n behoorlike gegons en gedreun by al die stalletjies soos wat die kinders al die interessanthede wou ervaar. Natuurlik het hul geld met ‘n gedurige koop en verkoop van produkte gate in hul sakke gebrand.

Die stalletjies het iets van alles gehad wat weliswaar die kern van entrepreneurskap uitgebeeld het.

Daar was die tradisionele items wat ‘n mens met so ‘n dag sou assosieer soos lekkergoed, koekies en kondensmelkinspuitings, asook nuwer interessanthede soos Sumostoei en “Racket to win it.”

Daar was wel ook die meer moderne “minion”-stalletjie wat die karakters van Despicable Me in die vorm van emmers verkoop het. Nog ‘n voorbeeld was Angry Birds Live waar leerlinge die kans gehad het om nes in die bekende elektroniese speletjie, teikens met ‘n kettie te skiet om pryse te wen.

Elke stalletjie het iets vir die oog gehad met kleurvolle dekor wat kopers getrek het. Die gr. 7’s het ook verskillende kostuums aangetrek om by hul verskeie temas te pas – daar was duidelik baie moeite en beplanning gedoen.

Een van die gewildste aantrekingskragte op die terrein vir die seuns was die veerpyltjiestalletjie asook die Sumo Stoei en kussinggevegte.

Die meisies het hulself weer geniet by die haarkleur, gesigverf en tafels waar hulle foto’s kon neem en hul lyf met ‘n groot verskeidenheid rekwisiete model kon hou.

Algeheel was die geleentheid ‘n groot sukses gewees met leerders wat gewens het dat die byeenkoms meer as net een keer per jaar plaasvind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button