Hard newsNewsNewsWar against poachingUpdate

SANParke gaan reservate se deposito’s terugbetaal

Volgens dr. Gert Dry van SANParke se raad, het Wintershoek Safaris reeds R6 miljoen oorbetaal en Chapungu Safaris Africa R8 miljoen

SKUKUZA – Die aankondiging op 12 Augustus dat SANParke renosters uit die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) gaan skuif om hulle teen stropers te beskerm, word sedertdien net al hoe meer in omstredenheid gedompel.

Dit is een van die maatreëls wat deur die minister van omgewingsake, me. Edna Molewa aangekondig is om renosters teen stropers te beskerm, maar wanneer dit geïmplementeer gaan word, bly ‘n raaisel.

SANParke het nou al verskeie mediaverklarings uitgereik in ‘n poging om vure dood te slaan, nadat daar berig is dat dit nou al te laat is om die diere hierdie jaar te skuif én dat van hulle boonop geoormerk was vir jagreservate in die Noordkaap.

Dit het nou wel hierdie week aan die lig gekom dat die organisasie R14 miljoen se deposito’s wat twee Noordkaapse reservate reeds aan hulle oorbetaal het vir meer as 250 witrenosters, gaan terugbetaal omdat die kontrakte gekanselleer is.

Volgens dr. Gert Dry van SANParke se raad, het Wintershoek Safaris reeds R6 miljoen oorbetaal en Chapungu Safaris Africa R8 miljoen.  “Die eienaars van hierdie reservate is ingelig dat die kontrakte ongeldig is en dus gekanselleer gaan word,” het Dry gister by navraag gesê.

“Die kontrakte is deur dr. Hector Magome beklink en is ongeldig omdat die organisasie se mandaat nie gevolg is nie,” het hy bygevoeg. Magome is gevolglik in Junie vanjaar geskors.

Hy moet nog ‘n tugverhoor ondergaan en ‘n onafhanklike forensiese oudit na die aangeleentheid, is aangevra. “SANParke se raad het nog nie enige besluite oor die verkoop van renosters goedgekeur nie,” het Dry benadruk.

Daar is ook onlangs berig dat mnr. Isaac Phaahla, ‘n woordvoerder van die organisasie, gesê het dat geen renosters vanjaar uit die wildtuin geskuif sal word nie omdat dit reeds te warm is. Hy het glo gesê dat winter die beste tyd is om hulle te skuif en dat dit daarom waarskynlik nie voor volgende jaar sal gebeur nie.

SANParke het kort hierna ‘n verklaring uitgereik waarin Phaala gesê het dat hy “bloot konteks gegee het aan die feit dat daar tans geen definitiewe datum is waarvolgens die verskuiwings gaan plaasvind nie”.

Hy het bygevoeg dat berigte dat die verskuiwing op ys gesit is, vals is. “Ek het gesê dat die tydgleuf wat deur wetenskaplikes aanbeveel word, tussen Maart en Oktober is en dat die beste tyd om vangse en skuiwings te doen dus tot ‘n einde kom. Ek het nooit gesê dat dit eers volgende jaar sal gebeur nie.”

Daar is weer eens benadruk dat skuiwings eers sal plaasvind sodra al die beplanning gefinaliseer is. Intussen is daar nou al 459 renosters hierdie jaar in die wildtuin gestroop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button