NewsSchools

Grootouers hou piekniek saam met kleingoed

Terwyl ouma en oupa aan hul smaaklike happies gesmul het, het die kinders op die grasperk baljaar en die tyd buite die klas terdeë geniet.

Oumas en oupas het Vrydagoggend by Laerskool Bergland saam met hul kleinkinders in die vars lentelug piekniek gehou.

Die mandjies was volgepak, die komberse uitgelê en die grasperk langs die skoolsaal is in ‘n miniparkie van ouds omskep.

Dit was verfrissend om die liefde tussen die kinders en hul grootouers te sien, veral toe almal drukkies uitgedeel het as deel van die dag se aktiwiteite.

Terwyl ouma en oupa aan hul smaaklike happies gesmul het, het die kinders op die grasperk baljaar en die tyd buite die klas terdeë geniet.

Hulle het op hul grootouers se skote gesit en lekker saam gesels en geëet. Daar was ook kinders wat die geleentheid gebruik het om foto’s saam met hul geliefde oumas en oupas te neem.

“Kyk Oupa en Ouma, die man gaan van ons ‘n foto neem. Nou moet ons mooi smile,” het een opgewonde kleuter gesê.

Die eregaste het ook elkeen ‘n sjokolade, koeldrank en spesiale notaboekie gekry met oulike aanhalings oor die belangrikheid van oumas en oupas in kinders se lewens.

Die dag het ook allerhande interresante vermaak ingesluit soos die country-sanger Noreen Jordaan, wat met haar lekker luisterliedjies ‘n klomp nuwe aanhangers bygekry het.

“Sy sing darem nou vir jou mooi,” het een oupa vir die ander een na haar vertoning genoem.

Slegs ‘n paar minute later het gr.1- leerlinge die piekniekgangers met siSwati-liedjies vermaak.

Algeheel was dit ‘n prettige dag waar twee verskillende generasies kwaliteittyd met mekaar kon geniet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button