
‘n Jong entrepreneur van Laerskool Witrivier het nie net ‘n oog vir besigheid nie, maar ook ‘n hart vir liefdadigheid. Suné Vos, een van die deelnemers van verlede week se gr. 7-entrepreneursdag, het al haar winste van die dag (net oor ‘n R1 000) aan Huis Bethlehem geskenk.
Die skool het van dié onbaatsugtige daad gehoor nadat kinders van Huis Bethlehem bedankingsbriefies aan Suné gestuur het, ingevolge ‘n brief wat saam met die geld daar afgegee is. In die brief het sy die kinders seën toegewens en vertel dat Jesus vir hulle lief is.
Een van die personeellede het gesê dat die skenking uit Suné se hart kom en dat sy nie gedink het dat enigiemand by die skool daarvan sou uitvind of na erkenning gesoek het nie. “Ek glo oud en jonk kan by die opregtheid en mededeelsaamheid van hierdie leerling leer,” meen sy.
Suné is as die skool se ster van die week gekies en het ‘n toekenning ontvang.
