Prokureur wil munisipaliteit ontbloot
Elke keer word die balju uitgestuur om die krag weer te laat aansit
LYDENBURG – ‘n Plaaslike prokureur is vasbeslote om Thaba Chweu Munisipaliteit (TCM) aan die pen te laat ry vir onwettige elektrisiteitsafsluitings.
“My klient, mnr. Jacob Theron Verwey, het ‘n hofbevel gekry om elektrisiteitstoevoer te herstel. Byna elke dag skakel TCM egter die krag af. My kliënt se krag is al ses keer afgeskakel. Elke keer word die balju uitgestuur om die kragtoevoer weer te herstel,” verduidelik mnr. Derrick Heroldt van Heroldt Prokureurs.
Hy sê dat hy ook al die tegniese bestuurder van TCM gaan oor die probleem gaan praat het. “Mens kan nie toelaat dat ‘n stadsraad hofbevele verontagsaam nie. As mens dit hier los, sit ons met ‘n groot probleem.”
Heroldt meen dat indien die krag na sy klient se woning weer afgesit word, dat hulle genoodsaak sal wees om ‘n minagtingsbevel te kry. “Hulle is besig met intimidasie. TCM het in ‘n stadium selfs die kabels gesny om die toevoer te staak en ‘n privaat-elektrisiën moes uitgeroep word om toevoer te herstel. Hulle (TCM) gaan vir al die kostes aanspreeklik gehou word.”
Hy reken TCM steur hulle eenvoudig nie aan hofbevele nie en dat daar van hulle ‘n voorbeeld gemaak moet word. “Ek dien op die Lydenburg Prokureurs-orde en ons kan nie toelaat dat hierdie stadsraad nie bevele gehoorsaam nie.” Heroldt sê dat daar prosedures in plek moet wees en dat TCM veronderstel is om aan dié riglyne te voldoen.
Inwoners wat ‘n dispuut verklaar oor ‘n elektrisiteitsrekening se krag mag nie afgesit word voor die dispuut opgelos of ondersoek is nie. Die munisipaliteit moet ook volgens wet 14 dae kennis gee vir die beoogde afsluiting.
Heroldt het ‘n brief vir onder andere die burgermeester van Thaba Chweu, mnr. Michael Ncongwane, die finansiële bestuurder, mnr. Garreth Mnisi, die munisipale bestuurder, mnr.Jomo Mnisi en die belastingbestuurder mnr.Mike Mashilo, gestuur.
In die brief meld hy dat TCM daarop moet let dat dié situasie onder die aandag van die media, die premier van Mpumalanga en die minister van Cogta gebring gaan word. “Laastens, neem asseblief kennnis dat ons kliënt julle persoonlik aanspreeklik sal hou vir alle skade wat hy gaan ly rakende die afskakeling van die elektrisiteitstoevoer.”
Die koerant het ‘n navraag gerig aan TCM oor die situasie. Die stadsraad het laat weet dat die saak sub judice is en dat hulle nie kan kommentaar lewer voor die hofuitspraak gelewer is nie.
