NewsNewsSchools

Vlammie verteenwoordig Mpumalanga in junior parlement

Steve Engelbrecht is onlangs verkies tot die provinsie se verteenwoordiger in die Kaap.

Steve Engelbrecht se skoolbaadjie is toe onder die balkies. Dié gr. 11-leerling van Hoërskool Bergvlam sê hy is dol oor balkies. “Ek is mal daaroor. Dis seker hoe ander mense oor trofeë voel.”

Steve het hierdie jaar opgehou om aan skoolsport deel te neem omdat hy dit nie meer in sy skedule kon inpas nie. Buiten die aandag wat sy sewe vakke vereis, is hy ‘n kultuurvraat en dien hy ook op die junior stadsraad.

Hy is baie entoesiasties en glimlag amper die hele tyd wanneer hy praat. Dis iets waarvan hy hou en wat hom goed te pas gekom het die afgelope skoolvakansie toe hy Mpumalanga in die junior parlement verteenwoordig het.

Steve is tydens hierdie sitting van 6 tot 10 Oktober in die parlement in Kaapstad as die provinsie se ambassadeur verkies en was die stafdraer. “Dit was pret. Ons het togas gedra.” Die lede moes ook aktuele vraagstukke bespreek. Steve was op die onder-wyskomitee.

“Die grootste probleem is dat kinders nie skool toe wil gaan nie. Hulle sien nie hul toekoms daar nie. Baie kinders dink hulle kan net geld by die regering ontvang. Ons wil probeer om hulle te inspireer en te laat insien dat opleiding die sleutel tot hul toekoms is.”

Hy erken dat hy aanvanklik maar skaam was aangesien nie een van sy vriende van die provinsie saam met hom in die moederstad was nie. “Ek was aanvanklik heeltemal vreemd tussen die 280 kinders. Maar na ‘n dag of wat het ek nogal goeie vriende gemaak.”

Wat ná skool wag, is ‘n moeilike vraag om te beantwoord, maar plaaslike politiek is nie baie hoog op sy lysie nie. “Ek wil alles doen. Ek wil medies gaan studeer of ‘n bioloog word. En ek sal graag ‘n ambassadeur wil wees.”

Vir eers wag nog ‘n jaar op skool en op die junior rade… En, hopelik, in die proses wag daar nog ‘n hele paar balkies op Steve.

• Die skool se meriete-aand vind vanaand in die skoolsaal plaas. Hou die koerant dop vir meer oor die top-presteerders.

Lees hier en hier meer oor Hoërskool Bergvlam.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button