News

Boere gekant teen nuwe wetgewing

"Ons maak seker dat posduiwe 'n 100 persent kans het om die huis te haal. Elke boer is lief vir sy duiwe.

MBOMBELA – Nuwe nasionale wetgewing wat die teel, besit en uitvoer van uitheemse duiwe verbied, kry groot teenkanting van plaaslike duiweboere en posduif-unies.

Hierdie nuwe wetgewing wat deur die Departement van Omgewingsake en Waterwese ingestel is, het posduiwe in die Staatskoerant as ‘n indringer- en uitheemse spesie gelys.

Volgens ‘n persverklaring van die Departement van Omgewingsake en Waterwese sal posduifwedvlugte nie deur hierdie nuwe wetgewing geaffekteer word nie. Daar sal eers met verskeie kenners in die industrie onderhandel word voordat dié wetgewing gewysig sal word.

“Die aantal posduiwe is relatief laag met betrekking tot die bestaande invloei van uitheemse duiwe. Dit is sodoende moontlik dat posduifwedvlugte vrystelling sal kry,” het die persverklaring gelui.

Johan van der Sandt, voorsitter van die Laeveld Posduif-unie, sê; die nuwe wetgewing raak nie spesifiek hul posduiwe nie, aangesien dit ‘n ander Latynse benaming het as dié in die Staatskoerant.

“Die wet is net op kransduiwe van Europa met ‘n sekere Latynse benaming van toepassing. Ons kyk baie mooi na ons posduiwe en ons maak seker dat hulle die beste kwaliteit sorg kry.”

Van der Sandt is wel ongelukkig dat die wetgewing hulle indirek raak en duiweboere sal benadeel.

“Daar is omtrent 4 000 duiweboere in Suid-Afrika en as die bedryf ten einde loop, kan dit tot gevolg hê dat baie mense hul werk verloor.”

Van der Sandt meen ook dat hierdie plaaswerkers juis die voëls skoonhou en versorg en sodoende ‘n broodnodige inkomste verdien.

Paul du Randt, voormalige voorsitter van die Laeveld Posduif-unie, stem ook nie saam dat posduiwe as uitheems gesien moet word nie.

“Duifwedvlugte en die teel van dié voëls word al vir dekades in ons land beoefen. Sedert die Tweede Wêreldoorlog is baie duiwe na Suid-Afrika vervoer om weggesteek te word. Hulle is al in ons land gevestig,” meen Du Randt.

Posduiwe word ook noukeurig gemonitor en kry die beste mediese sorg. Met die nuutste tegnologie in weervoorspelling, weet die unies wanneer om hulle vry te laat sodat hulle hul bestemming veilig kan bereik.

“Ons maak seker dat posduiwe ‘n

100 persent kans het om die huis te haal. Elke boer is lief vir sy duiwe. Ek dink daar sal groot teenkanting vanuit ander oorde ook kom,” noem hy.

Du Randt is ook aktief betrokke by die Miljoen Dollar-posduifwedvlug wat as een van die grootste in die wêreld beskou word. Die Laeveld Posduif-unie het in 2012 ‘n negende plek in die kompetisie gehaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button