Publiek help om gesin se las te dra
"Dié fondsinsameling is nie om Caiden se lewe te red nie, maar wel om haar en haar ouers se lewens te vergemaklik."
MBOMBELA – “Dié fondsinsameling is nie om Caiden se lewe te red nie, maar wel om haar en haar ouers se lewens te vergemaklik.”
Dit was die woorde van Francina du Plessis Saterdag by Captain’s Cabin by Lowveld High tydens ‘n fondsinsameling vir baba Caiden van Staden.
Sy is vier maande gelede met ‘n seldsame genetiese afwyking gediagnoseer en ‘n juweeluitstalling en motiveringspraatjie is gevolglik gehou om geld vir haar behandeling in te samel.
Caiden was net ses maande oud toe sy met Lissencephaly gediagnoseer is.
Dit beteken dat die groewe op haar brein nie ontwikkel het nie; haar brein is glad en slegs so ver ontwikkel soos dié van ‘n vier maande oue fetus. Epilepsie is ‘n simptoom van dié afwyking, maar ná ‘n reeks epileptiese aanvalle, is Caiden ook met West-sindroom – of kinderepilepsie – gediagnoseer.
Caiden se lewensverwagting is sowat drie jaar. “Dokters sê sy sal nooit kan sit of kruip nie,” sê Francina. “Inteendeel, gaan haar toestand nét versleg. Ons kort net fondse om haar lewe te vergemaklik.”
Francina is Ashleigh du Plessis (Caiden se ma), se peetma en ook Caiden se oppasser. Sy het dié fondsinsameling gereël om Caiden se hemelhoë mediese rekeninge te kan betaal, omdat die mediese fonds binnekort uitgeput gaan wees.
Caiden gebruik Diazepam, Keppra, Lethyl en Sabril, ontvang arbeids-en fisioterapie en moet selfs spesiale seep, sjampoe en lyfroom gebruik sodat sy nie ekseem opdoen nie. Honey Fashion Accessories, ‘n hoofborg van die geleentheid, het ‘n juweeluitstalling gehou en Tracy Todd, ‘n motiveringspraatjie.
Laevelders ken Tracy se storie as die aspirantgimnas en hekkiesatleet wat in 1998 haar nek in ‘n motorongeluk gebreek het en nou ‘n kwadropleeg is.
Haar boodskap was eenvoudig: wees dankbaar vir wat jy het en geniet elke oomblik daarvan. Só het sy ook vir Caiden se ouers gesê. “Julle het ‘n engeltjie wat vir ‘n kort tydjie hier is. Geniet haar.”
Lesers wat wil bydra kan ‘n deposito in die volgende rekening maak: CP Van Staden, rekeningnommer 624-898-466-87, FNB, Barberton, takkode 270-152.
