Robbie se gladde tong besorg haar ‘n derde plek
Danel Verwey het 'n derde plek in die nasionale ronde van die Radikale Redenaars, asook 'n kultuurtoekenning by haar skool, verwerf.
Die gr. 8-leerling van Hoërskool Rob Ferreira is nie op haar mond geval nie en het op 18 Oktober by Hoërskool Garsfontein die beoordelaars met haar praatjie beïndruk, “Kruie – ‘n Sterk pols in genesing”.
Sy het gedurende die provinsiale ronde ‘n eerste plek verwerf en sê sy het ‘n vyfde of sesde plek in die nasionale ronde verwag. “Dit het nie soos my beste aflewering gevoel nie,” vertel Danel.
Net die eerste twee plekke word na die kompetisie aangekondig en die redenaar moes twee dae wag voordat die res van die uitslae op die internet bekendgemaak is. “Die afwagting was verskriklik, maar toe ek die uitslae sien, kon ek dit byna nie glo nie.”
Benewens die redenaarsprestasie, het Danel se kultuuraktiwiteite met nog ‘n hoogtepunt afgesluit toe sy die kultuurtrofee tydens die skool se prestige-aand verwerf het.
Danel neem sedert gr. 2 aan redenaarskompetisies deel en sê sy oefen deur kaartjie vir kaartjie voor die spieël te lees. Sy neem ook elke jaar aan die voordragafdeling van die eisteddfod deel en gaan volgende jaar by die skoolkoor aansluit. Sy hoop om eendag haar liefde vir drama en skryf in ‘n opwindende loopbaan te kan uitleef.
