Munisipaliteit help dié in nood
Dié aksie is deel van die burgemeester se uitreikprojek.
Vragte kruideniersware is dié week deur Mbombela Plaaslike Munisipaliteit (MPM) by drie wyke in KaNyamazane afgelaai.
Die voorraad wat by wyk 13, 20 en 21 afgelaai is, sluit alledaagse items, soos mieliepap, droeë bone, sop, suiker en kookolie in.
“Die goedere word op ‘n hulpverleningsbasis verskaf,” sê MPM-woordvoerder Joseph Ngala. “Dit beteken ons verskaf dit slegs wanneer ons ingelig word dat dit uiters sleg met ‘n familie gaan.”
Volgens Ngala word baie meer as net kos in dié streke benodig. “Party mense het nie eers die regte dokumentasie soos ID-boekies nie, en dan help ons hulle ook daarmee.”
Die munisipale uitreikprogram loop regdeur die jaar en behels verskillende soorte maatskaplike projekte. “Baiekeer neem misdaad toe as gevolg van gebiede wat oorbebos raak en skuiling aan misdadigers bied,” sê Ngala. “Ons roei daardie bosse dan uit.”
MPM sal kleiner werkies doen, soos om slaggate reg te maak of naamborde te vervang. Groter sosiale kwessies word by die Departement van Sosiale Ontwikkeling aangemeld. “Die klein werkies wys dat die munisipaliteit daar was.”
