Dogter betower met haar krabbelkuns
Leerling van Laerskool Sabie wen haar kategorie van die Doodle4Google-kompetisie.
MBOMBELA – Haar renoster-krabbelprent het vir haar die gesogte Doodle4Google-prys in haar kategorie besorg.
Kayleigh Breytenbach, ‘n
gr. 2-leerler van Laerskool Sabie se reënboogkleurprentjie van ‘n renoster is vroeër die maand in die kategorie ses tot agt jaar benoem. Sy is Saterdag in Johannesburg as wenner van die ses-tot-agtjaarkategorie aangewys. Daar was meer as 5 000 inskrywings in al die kategorieë.
Met haar krabbelprent het Kayleigh gestreef na bewusmaking van renosterstropery en hoekom dit belangrik is om renosters se horings te verwyder om die stropery stop te sit. Sy het, onder andere, ‘n androïed-tablet, ‘n Google-skootrekenaarsak, ‘n T-hemp met haar krabbelprent daarop en Superga-tekkies met elk van die vier wenprentjies daarop, gewen.
Volgens haar ma, Karen, gaan Kayleigh se krabbelprent nie op die befaamde tuisblad verskyn nie. “Kayleigh het een van vier ouderdomskategorieë gewen, maar slegs die topwenner se krabbelprent gaan op
3 Desember verskyn. Nietemin sal haar skepping in die dokumentêre reeks wat Google beplan, verskyn.” Die wenprent is dié van Katya Ludick, ‘n gr. 8-leerder van Hoërskool Noordheuwel, en haar uitbeelding is van ‘n stroopvrye Suid-Afrika waar renosters, olifante en luiperds vrylik teen sononder wei. Ludick het
R100 000 vir haar skool gewen.
Nóg ‘n Laevelder, Michael Booysen, was onder die eerste vyf in die nege-tot-elfjaarkategorie, maar het nie in sy ouderdomsgroep gewen nie. Sy ma, Michele, sê dit was nog steeds ‘n wonderlike ervaring en hy het die geleentheid gekry om vir Yvonne Chaka Chaka te ontmoet.
