
WITRIVIER – ‘n Hewige onderonsie het onlangs tussen twee buurmanne van Witrivier uitgebreek toe mnr. Marius Kotze se hond – ‘n husky – deur sy buurman en twee werkers vir ‘n uur lank doodgemartel is.
Volgens Kotze het sy buurman die tweejarige hond na ‘n buitekamer geneem, hom toegemaak en herhaaldelik met stokke en pype geslaan omdat die hond glo ‘n bok van die buurman aan die been gebyt het.
“Ek het vir ‘n uur lank gepleit dat hulle asseblief net moet ophou, maar niks het hulle gekeer nie. Ek het gehoor hoe slaan hulle hom en hoe hy tjank. Ek kon niks doen nie. Hulle wou nie stop nie,” het ‘n erg-ontstoke Kotze vertel.
Kotze het die polisie asook die SPCA ontbied, maar sy geliefde Max was toe reeds dood.
“Hy het in sy eie bloed verdrink”.
Volgens Kotze het die nadoodse ondersoek getoon dat alhoewel die dier se kake en skedel vergruis was, dit die ribbes is wat deur sy long gesteek het wat eindelik sy dood veroorsaak het.
“Hoe sê mens dit vir jou kinders?”, wou hy verslae weet.
Kotze meen daar was nog nooit struweling tussen hom en sy buurman nie.
Laevelder het verskeie kere probeer om Kotze se buurman, wat as ‘n ene mnr. Spahn deur Witrivier se polisie geidentifiseer is, te kontak, maar sonder sukses. Beide Spahn se nommers is geskakel en ‘n boodskap is op sy foon gelos.
Die plaaslike polisie het egter die voorval bevestig. “Ons ondersoek ‘n saak van dieremishandeling en kan bevestig dat beide betrokkenes ‘n saak teen mekaar geopen het”, het AO Gugu Phiri, kommunikasiewoordvoerder, gesê. “Die saak word ondersoek en ons wag nog vir verklarings om afgelê te word.”
Read the update here:





