NHS lewer beste matriekuitslae in Mpumalanga
Die skool se 230 matriekkandidate het ook weereens 'n 100 persent slaagsyfer behaal.

MBOMBELA – Hoërskool Nelspruit (NHS) se matrikulante van 2014 het bewys dat harde werk en opoffering tot groot sukses lei, met 11 slimkoppe wat elkeen sewe onderskeidings behaal het.
NHS is ook as die nommer een skool in die provinsie aangewys met die hoogste universiteitsvrystellingsyfer van 67,5 persent, asook die meeste onderskeidings. Die skool se
230 matriekkandidate het ook weereens ‘n 100 persent slaagsyfer behaal.
Madri Wiid is as die beste leerling in Mpumalanga aangewys en het vir haar uitstaande prestasie ook ‘n nuwe kar gewen. Jac Visser is as die beste wiskundeleerling in die provinsie aangewys met ‘n allemintige gemiddeld van 98 persent. Frederik van Dyk het die beste uitslae in geografie gekry met ‘n verstommende 99 persent slaagsyfer. Inligtingstegnologie het die beste vakgemiddeld met
87 persent opgelewer. NHS het ook die beste vakprestasie in wiskunde, besigheidstudies en Engels-eerste addisionele taal behaal.
Claude Pretorius het agt onderskeidings behaal, die meeste in die skool. Petro Janse van Rensburg en Cecil Harley spog met sewe onderskeidings elk en is altwee in hul noppies met hul uitslae gewees.
Petro het onderskeidings in Afrikaans, Engels-eerste addisionele taal, wiskunde, fisiese wetenskap, lewenswetenskap, rekenaartoepassingstegnologie en lewensoriëntering behaal.
“Ek het verwag om soveel onderskeidings te behaal en die geheim is om hard te leer en doelgerig te wees,” het sy genoem.
Petro gaan vanjaar sterrekunde by die Universiteit van Kaapstad studeer waar sy beoog om nog hoër hoogtes te bereik.
“Ek hou baie van wiskunde en sterre fassineer my,” het sy genoem terwyl haar trotse ouers, Isak en Retha langs haar gestaan en haar gelukgewens het.
Cecil het onderskeidings in wiskunde, Afrikaans, Engels-eerste addisionele taal, lewensoriëntering, rekeningkunde, lewenswetenskap en fisiese wetenskap behaal.
“Ek wil hierdie jaar medies by Tukkies gaan studeer. Ek is baie opgewonde. Dit is ‘n groot passie,” het hy genoem.
