Nuwejaar ‘n tragiese dag vir talle diere
Sowat 100 vermiste honde het in die nadraai van Oujaarsdaand by die DBV opgeëindig.
MBOMBELA – Vuurwerke het vir ‘n pragtige skouspel op Oujaarsaand gesorg, maar ‘n verwoestende effek op die welstand van talle inwoners se troeteldiere gehad.
Sedert 1 Januarie is dierebeskermings-organisasies stampvol, as gevolg van honde wat die hasepad gekies het ná klappers hulle die skrik op die lyf gejaag het.
Shan Paton, leerlingondersoeker by die Nelspruitse Dierebeskermingsvereniging (DBV), sê alhoewel hulle geen honde op Oujaarsaand self ingeneem het nie, het daar sowat 100 vermiste honde in die nadraai van Oujaarsaand by die DBV opgeëindig.
“Die honde stroom al vanaf die oggend van 1 Januarie in,” sê Paton. “Ons kan almal akkommodeer, maar ons hokke is stampvol.” Paton sê hulle het reeds ‘n paar honde met hul eienaars herenig, maar daar is nog talle wat opgeëis moet word.
Baie mense kom egter tevergeefs hul verlore vierpotige “kinders” by die DBV soek. “Daar is nog baie honde wat glad nie opgespoor is nie en dan kom soek hul eienaars hulle by ons.”
Vorige jare is honde erg beseer nadat hulle probeer het om heinings talle oor te steek. “Ons het gelukkig nog geen beserings sover hierdie jaar gesien nie,” sê Paton.
Katte hardloop ook weg en is moeiliker om op te spoor. Karin Erasmus, eienaar van Pro-Life Pet Rescue, sê sy het op Oujaarsaand rondgery en nege dooie honde en talle dooie katte langs die pad opgemerk.
“Ek het ook ‘n klein worshond gesien wat waansinnig op die R40 in Barberton se rigting rondgehardloop het. Ek het hom probeer vang, maar dit was pikdonker en basies onmoontlik. Mense vertel my hulle het die volgende dag twee dooie worshonde, naby die plek waar ek die hondjie gesien het, opgemerk.”
Pro-Life self het ses honde ingeneem. “Ons plek is baie beperk,” sê Erasmus. “Ons moes baie diere na die DBV verwys omdat ons hokke reeds te vol was.”
Dié organisasie het reeds een hond, ‘n yorkshireterriër, met haar eienaar herenig.
Erasmus sê sy gaan hierdie jaar saam met privaat sekuriteitsmaatskappye werk om die onwettige verkoop en afvuur van vuurwerke stop te sit. “Ek gaan self ondersoek instel na onwettige vuurwerkhandel. As die handelaar nie ‘n lisensie het nie, sal dit gerapporteer word, maar só kan dit nie aangaan nie.”
