Local newsMunicipalNewsNews

Onnodige lyding van diere moet end kry

Op Nuwejaar is ‘n hond wat in palisades vasgesit het, gered. Die eienaars kon nie opgespoor word nie en die dier moes later uitgesit word, aangesien hy inwendige beserings opgedoen het.

Hierdie jaar was die vuurwerke aansienlik minder as vorige jare, maar daar het steeds skote links en regs oorverdowend geknal, veral op Oujaarsaand.
Inwoners Laura Jane Harrod, Dillan Botha en Xandri Coetzee, onder andere, het hul Oujaar spandeer deur óf te voet óf per voertuig, diere wat op die vlug geslaan het, te soek.

Intussen het die voorsitter van die Barberton DBV, Marcelle Hoffman, ook deurentyd gewerk om verwilderde diere te vang. Baie honde het selfs op die eerste dag van die nuwe jaar nog rondgehardloop en sommiges is steeds vermis. Menige inwoners het selfs vuurwerke in hul diere se teenwoordigheid geskiet.

Op Nuwejaar is ‘n hond wat in palisades vasgesit het, gered. Die eienaars kon nie opgespoor word nie en die dier moes later uitgesit word, aangesien hy inwendige beserings opgedoen het.
Volgens Hoffman is die diere wat die berge invlug en nie gevind word nie, baie slegter daaraan toe, aangesien hulle moontlik op ‘n wrede wyse sterf sonder dat daar enige kans was om hulle op te spoor.

“Ons kan nie oral wees nie,” se die dapper vrou wat selfs vuurwerke op Oujaarsaand gaan konfiskeer het.
“Die feit dat baie mense glo, en dit verkondig, dat die skiet van vuurwerke vir hulle en hul kinders ‘n tipe kultuur geword het, is genoeg om van naar te word,” sê Hoffman.
Barbertonner Elsabe Faure het ook haar hondjie tydens die feesseisoen verloor. Die inskrywing op haar Facebook-muur van 1 Januarie spreek boekdele: “Vanaand spreek ek woede uit oor elke ou wat ‘n klapper gisteraand geskiet het. Die ouens om ons in Hendry Netmanstraat – julle sal jul dag kry. Was fun nê? As gevolg van elke ou se nalatigheid is soveel honde dood en weg. Ons het ons s’n gekry nadat sy gevlug het en deur ‘n klein opening deur die draad geklim het. Ons buurman se hond het haar doodgebyt”.

Vroeg in Desember reeds het Barberton Times met ‘n bewusmakingsveldtog teen die gebruik van vuurwerke begin. Twintig van Barberton se besighede het hul name en geld by hierdie veldtog gevoeg. Die publikasie het besluit om, in samewerking met die plaaslike DBV, die wetgewing op die gebruik van vuurwerke as die projek vir 2015 aan te neem.
Saam is daar besluit om die nodige R30 000, wat dit sal kos om die proses te voltooi vir die afkondiging van ‘n verordening, in te samel en so spoedig moontlik aan die Umjindi Stadsraad te oorhandig.

Diereliefhebbers is dit eens dat hierdie onnodige pyn en lyding van onskuldige diere dadelik gestop moet word.
“Dinge het eenvoudig te ver gegaan en dit is nou op die punt waar eienaars van geliefde diere hul voet in so ‘n mate gaan neersit dat dit in ‘n lelike storie gaan ontaard,” sê ‘n leser.

Indien jy jou deel wil doen deur te help met fondsinsameling vir hierdie veldtog, of ‘n kontantbydrae wil maak, skakel Marcelle Hoffman by 082-825-1505 of of Anchen Coetzee by 072-328-7065.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button