Alhoewel nie almal van hulle onderskeidings gekry nie, was die meeste van Rob Ferreira se leerlinge met hul uitslae tevrede. Hulle het vroeg Dinsdagoggend ‘n draai by die skool gaan maak en met bewende hande die bladsy met hul punte by hul onderwysers ontvang. White River Post het met ‘n paar van hulle gesels oor hoe hulle voel oor hul laaste skoolrapport en wat die toekoms vir hulle inhou.
Ursula Nyambi was skoon opgewonde oor haar uitslae aangesien sy vier onderskeidings verwerf het. Sy is binnekort na Stellenbosch op pad om chemiese ingenieurswese te gaan swot. Haar vriendin, Nontokozo Mathonsi het slegs een onderskeiding gekry, maar was ook uitgelate. Sy gaan aan die Universiteit van Pretoria sielkunde studeer. Die twee meisies sê hulle het hard gewerk en is bewys dat dit werklik moontlik is om goed te doen in jou matriekjaar. Hulle meen ook dat hulle dit nie sonder hul hemelse Vader kon doen nie.
Danelle Willemse het twee onderskeidings verwerf en sy en Jessica Erasmus is albei studenteonderwysers. Hulle gaan hierdie jaar by skole in Witrivier begin werk en albei sien daarna uit. “Kan jy glo, ons is skaars klaar met skool en dan gaan ons weer skool toe,” het Danelle gespot. Die tweetjies sê dit was ‘n tawwe eksamen, veral aangesien hulle al hul groot vakke in een week geskryf het, maar het saam geleer en dink dit het gehelp.
Nadine Moon, gaan volgende jaar by Wits kliniese genees- kunde swot en het ook vir ‘n laaste keer saam met haar groep vriende gekuier. Hulle gaan ook almal by verskillende universiteite swot. Pearl Modisha beplan om ‘n prokureur te word en gaan by Turfloop studeer, terwyl Palesa Thela by die Universiteit van die Wes-Kaap sielkunde gaan studeer en Monde Jiyane by die Universiteit van Kaapstad weer van sielkunde in haar sosiale wetenskapkursus gaan leer.
‘n Hele paar ouers het hul kinders vergesel, om seker te maak dat hulle nie te ontsteld raak oor slegte uitslae nie. Ander het namens hul kinders die uitslae gaan haal en was baie senuagtig oor wat op hulle wag.
Lees hier meer oor die 2014-matriekuitslae.
