Met dié tassies is die Bergies slaggereed
In hierdie tasse is daar 'n verskeidenheid skryfbehoeftes soos 'n inkleurboek, vetkryte, 'n legkaart, 'n tennisbal, potlode en allerhande skoolverwante toerusting.
MBOMBELA – Laerskool Bergland het Woensdag 14 Januarie meer as 100 nuwe gesiggies verwelkom. Hulle het ewe gretig maats begin maak en hulle aan die nuwe klaskamers en onderwysers verkyk.
Talle ouers het trane van blydskap en hartseer gestort, met die wete dat hulle bloedjies nou ‘n nuwe en opwindende fase van hul lewe betree het.
“Hierdie jaar het ons 140 gr. 1’s met ‘n gelyke aantal dogters en seuns. Ons gaan vier klasse vol maak, waarvan drie Afrikaans en een Engels is,” het me. Marena Buitendag, skakelbeampte van Laerskool Bergland genoem.
Daar was ook ‘n spesiale oorhandiging by die skool met Nelspruit Solidaritiet wat nuwe tassies propvol skryfbehoeftes aan vyf gelukkige gr. 1’s verskaf het.
Hierdie kleingoed se ouers kan nie altyd bekostig om splinternuwe skooltasse en skryfbehoeftes aan te skaf nie.
Siphomandla Nkosi, Zander Erasmus, Blake Scott, Kelly Huiskamp en Cherize Pretorius het met blink oë en groot glimlagte hul tassies van Superman, mnr. Dieter du Toit, ontvang.
Volgens me. Gerda Venter van Solidariteit, word daar beoog om 80 rugsakke by laerskole Bergland, Nelspruit en Laeveld aan minderbevoorregte gr. 1-leerders uit te deel.
In hierdie tasse is daar ‘n verskeidenheid skryfbehoeftes soos ‘n inkleurboek, vetkryte, ‘n legkaart, ‘n tennisbal, potlode en allerhande skoolverwante toerusting.
Juf. Susan Scholtz, gr. 1-graadhoof by Bergland sal seker maak dat elke nuweling tuis voel. Die ander onderwysers is
juf. Susan Smit, juf. Marie Welman en
juf. Yolande Moolman.
