NewsNewsSchools

Graadeentjies word toegerus om grootskool aan te pak

Helpende Hande het verlede week aan agt gr 1's splinternuwe skooltassies propvol skoolgereedskap persent gegee as deel van 'n jaarlikse projek.

‘n Groepie van agt gr. 1’s het Vrydag in Laerskool Witrivier se skoolsaal elk ‘n splinternuwe skooltassie van Helpende Hande ontvang.

Die organisasie, ‘n been van Solidariteit, bied elke jaar die skooltassieprojek aan waarin behoeftige gr. 1’s regoor die land geïdentifiseer word en dan ‘n splinternuwe skooltassie propvol skoolgereedskap ontvang. Daar is sedert 2007 al meer as 21 000 tassies aan kinders geskenk om seker te maak hulle voel nie minderwaardig teenoor maats wat meer as hulle het nie. Hierdie jaar gaan sowat 4 750 nuwe gr. 1-leerders elk ‘n tassie ontvang.

Helpende Hande poog om met verskeie soortgelyke projekte kinders, oumense en behoeftiges te help en sodoende armoede ‘n nekslag toe te dien.

Me. Ansie Arrow (voorsitter) en me. Elize Visser (sekretaresse) het die plaaslike Helpende Hande-tak Pêrels vir Jesus, verteenwoordig. Die tak is verlede jaar in Boekenhoutstraat, Mbombela gestig en sal voortaan elke jaar die tassies by Laerskool Witrivier kom uitdeel.

Daar is 20 tassies aan die skool oorhandig, maar aangesien net agt behoeftige graadeentjies geïdentifiseer is, sal onderwysers hulle oë vir nog ‘n paar oophou en dit later aan hulle uitdeel.

Die kleingoed het gekriewel van opgewondenheid en kon nie wag om hul tassies oop te maak en te sien wat hulle alles gekry het nie. Elke tassie bevat basiese skryfbehoeftes soos inkleurpotlode, ‘n pennesakkie, ‘n inkleurboek, leesboek en opvoedkundige blokkies, alles ter waarde van R800.

Die kinders het elk ook ‘n McDonald’s Happy Meal vir middagete gekry, asook ‘n speelding, ballon en ‘n paar lekkertjies.

Mnr. Frannie van der Riet, Laerskool Witrivier se skoolhoof, het die twee vroue vir hul wonderlike werk bedank en sterkte met toekomstige projekte toegewens.

Arrow sê Pêrels vir Jesus beplan nog heelwat fondsamelings hierdie jaar wat ‘n pretdag, ‘n gholf- en ‘n bederfdag vir bejaardes insluit.

Om meer oor Helpende Hande en die Pêrels vir Jesus-tak uit te vind, skakel Arrow by 082-460-4067 of Visser by 079-485-7779.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button