Die nuwe groep gr. 8’s van Hoërskool Rob Ferreira het hul hoërskoolloopbaan met ‘n week vol liefdadigheidswerk begin. Hoofmeisie Manon Engelbrecht sê die groep, vergesel deur leiers en toesighouers, het tydens die week van 20 Januarie papiere in die dorp gaan optel en om die dammetjie by Willem Swanepoel-straat gaan skoonmaak.
Die leerlinge het ook gaan bossies uittrek en tuine netjies maak by SAVF Rustig Ouetehuis. “Dit was so lekker om die glimlagte op die mense se gesigte te sien as ons hulle tuin help mooi maak het,” vertel Engelbrecht.
Africa School of Missions, op die Numbi-pad na Hazyview, het ook by hierdie liefdadigheidspoging gebaat toe die leerlinge hulle besoek het en ook skoongemaak, in die tuin gewerk en gehelp het waar hulle kon. Volgens Engelbrecht is die doel van die week om leerlinge verskillende waardes soos respek en lojaliteit te leer. “Hulle leer ook hoe om goeie dinge vir ander te doen en ‘n blywende indruk op die mense in die gemeenskap te laat,” meen sy.
Die hoofmeisie vertel ook dat die nuwelinge die week se aktiwiteite baie geniet het en goed saamgewerk het. “Om so alles saam te doen bring hulle ook nader as ‘n groep en bou eenheid,” sê sy.
Engelbrecht sê dat hulle as leierskorps graag gereelde uitreike wil onderneem na, onder meer, die ouetehuis en ander liefdadigheidsinstansies, maar dat dit tans slegs in die beplanningsfase is.
